9 NOVEMBER
November 9, 2015
11 NOVEMBER
November 11, 2015

Gebeure

1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Heuningneskloof/Belmont

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Wonderfontein, Klein-Marico, Tvl.

1917 – Eerste viering van Afrikanerdag of Helpmekaardag

Ná die Rebellie van 1914 het hoë bedrae aan eise, boetes en hofkostes teen die rebelle opgebou, veral in die Vrystaat waar ook generaal CR de Wet onder diegene was wat verhoor en swaar boetes en tronkstraf opgelê is. Vrystaters het groot bedrae ingesamel om vir die genoemde doel te gebruik maar teen Julie 1917 was daar in dié provinsie en in Transvaal nog R220 000 nodig. Hierna is die insamelingsveldtog landwyd verder gevoer in ’n grootse Helpmekaar-inspanning om Afrikaners van verarming te red. In Kaapland is die Helpmekaarvereniging ingespan, en deur middel van oproepe veral in Die Burger is hierdie datum bepaal as mikpunt vir die verkryging van die beoogde bedrag. Op 30 Augustus het Die Burger gepleit dat van hierdie dag gemaak moet word “Onze Grote Afrikanerdag”. Die reaksie was so oorweldigend dat toe hierdie Helpmekaardag verby was, nie net die R220 000 verkry is nie maar daar ’n oorskot van R120 000 was – geld wat later in die Helpmekaar-Studiefonds geplaas en gebruik is om jong mense verder te laat studeer.

1919 – Afrikaans die eerste keer in die Kerk gebruik

By die Sinodesitting van die Kaapse NG Kerk in 1919 is op voorstel van doktor BB Keet besluit dat Afrikaans naas Hollands op die kansel gebruik kan word. Daar is ook besluit om met die medewerking van ander NG Kerke en die twee susterskerke, naamlik die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk, daadwerklik aandag te gee aan die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit was egter nie die eerste besluit wat in dié verband geneem is nie; die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk het reeds in Mei 1916 op voorstel van doktor NJ van der Merwe ’n derglike besluit geneem.  Voorafgaande hieraan was daar ’n rypwordingsproses. Die Eerste Taalbeweging het grootliks ontstaan met die doel om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Dominee SJ du Toit het verskeie proewe van so ’n vertaling gepubliseer. Dit het egter weens die eienaardige spelling en ander faktore nie inslag gevind nie. Vanaf 1906 het twee jong studente op Stellenbosch, naamlik Tobie Muller en Bennie Keet, hulle beywer vir ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel. Later het NJ van der Merwe hom by hulle aangesluit. As proponent en later as hulpprediker op Stellenbosch, het Tobie Muller dit gewaag om in die CJV-saal in Afrikaanse vir studente te preek. Hy is deur die kerkraad verbied om dit verder te doen. Die groot deurbraak vir Afrikaans in die kerk het gekom met die verskyning van die Bybel in Afrikaans in 1933. In 1937 het Totius se Berymde Psalms in Afrikaans verskyn, en in 1944 is die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek in gebruik geneem.

 

Geboortes

1483 – Martin Luther, teologiese grondlegger en leraar van die Reformasie († 18 Februarie 1546)

Martin Luther is op hierdie dag in Eisleben gebore en op 18 Februarie 1546 oorlede. Die magtige protes van “die monnik wat die wêreld geskud het” teen die dwaalleringe en misbruike van die Kerk van sy tyd, het op die groot Kerkhervorming van die sestiende eeu in Europa, met sy verreikende gevolge op kerklike, maatskaplike en staatkundige gebied oor die wêreld heen uitgeloop. Sy vertaling – met die hulp van ’n paar kundige vriende – van die Bybel in die Duitse volkstaal, het ’n onberekenbare groot invloed op die loop van die Hervorming sowel as op die taalontwikkeling in Duitsland gehad, en tot vandag toe het geen Duitse vertaling dié van die Hervormer verdring nie. Die eerste volledige uitgawe daarvan het in 1534 verskyn.

1887 – Samuel Henri Pellissier, vader van die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging († 18 Mei 1978)

Dr. Samuel Henri Pellissier was ’n Afrikaanse kultuurleier, opvoedkundige, kerkman en veral die stigter van die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging. Hy was ’n kleinseun van die Franse sendeling, eerw. Jean Pellissier, die stamvader van die familie in Suid-Afrika en ’n broer van die kultuurleidster Mabel Jansen (gebore Pellissier) en die NG predikant en teologieprofessor George Murray Pellissier.

1888 – Prof. Jacobus Johannes le Roux, linguis en Afrikaanse kultuurleier († 6 September 1946)

1945 – Christoffel Coetzee, skrywer, joernalis en dosent in politieke wetenskap († 18 Julie 1999)

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/