9 MEI
January 10, 2017
11 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1864 – MW Pretorius neem die eed van die amp as president van die hele Transvaal

1878 – Pres. Jan Brand lê hoeksteen huidige Tweetoringkerk in Bloemfontein

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Sandrivier

Ná hewige gevegte onttrek die Boere hulle en Roberts beset Ventersburg en die stasie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Mafeking wat tot 12 Mei duur

1961 – Verkiesing van CR Swart as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika

Op hierdie dag is Charles Roberts Swart (gebore op 5 Desember 1894) as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika verkies. Sy openbare lewe het in 1919 begin toe hy organiserende sekretaris van die Nasionale Party in die Oranje-Vrystaat geword het. In 1923 het hy Volksraadslid geword, in 1948 Minister en in 1960 Goewerneur-generaal. Van 31 Mei 1961 af was hy amptelik staatspresident. In 1968 het hy afgetree en in 1972 is die Dekorasie vir Voortreflike Diens aan hom toegeken. Die amp van Staatspresident het in 1961 verskil van dié van die Boererepubliek waar mense soos Paul Kruger en MT Steyn regerings- sowel as staatshoofde was. Hy word vir sewe jaar tydens ’n gesamentlike sitting van die Senaat en Volksraad met ’n meerderheid van stemme in die amp verkies en is normaalweg nie herkiesbaar nie. Hy moet die Senaat of die Volksraad ontbind, ministers op aanbeveling van die premier aanstel, eerbewyse toeken, buitelandse verteenwoordigers op aanbeveling aanstel of ontvang, die Parlement laat vergader of ontbind, staatsverdrae bekragtig, krygswet afkondig of herroep, oorlog verklaar of vrede sluit, oortreders begenadig en as simbool van die staat die belange en eer van die land dien en beskerm. Die kabinetslede vorm saam met die staatspresident die Staatspresident-in-rade, maar die staatspresident tree eintlik op volgens advies van en minstens in oorleg met die kabinetslede. Die Staatspresident-Sport-toekenning (sedert 1966) en die Staatspresidentwag (sedert 1967) is van groot betekenis in ons land. Die opvolger van CR Swart was JJ Fouche (April 1968 tot April 1975), dr. N Diederichs (April 1975 tot Augustus 1978), BJ Vorster (Okt. 1978 – Jun. 1979 en M Viljoen (Jun. 1979). By aanvaarding van die amp lê die Staatspresident ’n ampseed voor die Hoofregter in die teenwoordigheid van ander hooggeplaastes tydens ’n besondere en plegtige seremonie af – gewoonlik in ’n kerkgebou en waardeur die religieuse betekenis van gesag bevestig word. 

 

Geboortes

1614 – Zacharias Wagenaer, tweede Kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop († 12 Oktober 1668)

1853 Ds. AP Burger (30 Oktober 1937)
Alwyn Petrus Burger is op Montagu gebore. Saam met ds. AP Kriel, van Langlaagte, kan ds. Burger as die grondlegger van die inrigtingsorg van die barmhartigheidsdiens van die Transvaalse NG Kerk gereken word. Op Middelburg rig hy in 1902 ’n kinderhuis vir oorlogswese op, en as voorsitter van die Commissie voor Armblanken (1906), verrig hy belangrike dienste om verarmde landgenote te rehabiliteer. Hy sterf op 30 Oktober 1937 op Middelburg, Tvl. 

1882 – Johan Lambertus Machiel Franken, kultuurhistoriese skrywer († 20 Oktober 1959)

1915 – Christiaan Frederik (Beyers) Naudé, teoloog en anti-apartheidstryder († 7 September 2004)

Beyers Naudé was ’n dominee en ‘n prominente anti-apartheidsrolspeler. Alhoewel hy aanvanklik apartheid verdedig het, het hy later sy siening verander en het hy sy oortuigings daarteen openbaar gemaak. Nadat hy in apartheidsjare deur sommige as verraaier gesien is, is hy uiteindelik vereer as strydder teen apartheid, met onder meer strate in Randburg, Pretoria, Potchefstroom, Rustenburg, Lichtenburg en Middelburg en ’n plein wat na hom vernoem is. Ereburgerskap van Johannesburg is ook aan hom toegeken.

1945 – Koos du Plessis, sanger, liedjieskrywer en digter († 14 Januarie 1984)

Koos du Plessis was ’n musikant wat toonaangewend was in die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging van die 1970’s en 1980’s. Hoewel hy kommersieel nie baie suksesvol was as uitvoerende kunstenaar nie, het die albums wat hy in sy leeftyd uitgereik het, ’n nuwe rigting in Afrikaanse musiek ingelui en word dit vandag as van die invloedrykstes in die taal se musiekgeskiedenis beskou. Tientalle verwerkings van sy komposisies is sedertdien deur verskeie ander Afrikaanse kunstenaars opgeneem en ’n hele paar het huldeblyk-albums aan hom opgeneem.

 

Sterftes

1940 – Paul de Groot, akteur (* 11 Januarie 1878)

1987 – Sita (mev. JJ Bosman), skrywer (* 10 Junie 1898)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/