9 JUNIE
June 9, 2015
11 JUNIE
June 9, 2015

Gebeure

1909 – Referendum in Natal

’n Referendum word in Natal gehou oor of dié Britse kolonie deel van die Unie van Suid-Afrika moet vorm. Daar is 11 121 stemme ten gunste en 3 701 daarteen.

1909: Christelike sangvereniging ASAF in Pretoria gestig

Hierdie vereniging kom tot stand deur die ywer van dr. SO Los, wat in 1908 as predikant van die Geref. Kerk Pretoria bevestig is. Dit word gestig op 10 Junie 1909 onder leiding van die orrelis Petrus van den Burg, wat ook optree as direkteur van die koor. Die lede van die koor was almal uit die Hollands-Afrikaanse gemeenskap afkomstig. Volgens resensies in De Volkstem het die Asaf-koor ’n hoë peil in sy optredes gehandhaaf en is hy goed deur die publiek ondersteun. Die laaste optrede op 7 April 1926, was ’n uitvoering van die Elia van Mendelssohn, waarna die vereniging ontbind is.

 

Geboortes

1829 – Eduard Johan Pieter Jorissen, regter en staatsman († 20 Maart 1912)

Eduard Johan Pieter Jorissen is in Zwolle, Nederland, gebore. Hy bekwaam hom as doktor in die teologie en publiseer verskeie teologiese werke. Op die inisiatief van pres. Burgers kom hy na Pretoria; hy lê hom toe op die regswetenskap en word in 1876 aangestel as Staatsprokureur van die ZAR. In dieselfde jaar ontwerp hy die Krygswet en die Transvaalse Grondwet van 1877. Hy speel nie net ’n aktiewe rol op die politieke terrein in Transvaal nie, maar ook ten opsigte van muntkonsessies, die verkryging van ’n spoorlyn, ’n eie bankwese en die kodifisering van die wette van Transvaal. Hy was Volksraadslid vir Pretoria en is in 1890 tot strafregter in die Hooggeregshof aangestel. Hy was nie baie bemind onder die Transvalers nie, maar is gerespekteer vir sy waardevolle bydrae in ’n kritieke tydperk in die ZAR se geskiedenis. Straatname in Pretoria en Johannesburg is na hom genoem. In 1970 keer hy permanent na Nederland terug waar hy op 20 Maart 1912 in Scheveningen sterf. 

1872 – Genl. JCG Kemp, soldaat, kabinetsminister en rebelleleier († 31 Desember 1946)

Jan Christoffel Greyling Kemp, gebore in die Amersfoort-distrik, het sy opvoeding aan die Staatsgimnasium in Pretoria ontvang en het daarna onder meer in die kantoor van die mynkommissaris op Krugersdorp gewerk. Hy het aan die Magato-oorlog (1895) en die krygsverrigtinge met die Jameson-inval (1895 tot 1896) deelgeneem. In die Anglo-Boereoorlog het hy as lid van die Krugersdorpse kommando aan die eerste gevegte in Natal deelgeneem en is hy in Junie 1900 in Noord-Transvaal tot kommandant verkies. In Februarie 1901 is hy as veggeneraal aangestel, en in die hoedanigheid het hy sy bekwaamheid en waaghalsigheid getoon in gevegte soos dié by Moedwil (30 September 1901) en Ysterspruit (25 Februarie 1902). Met die vredesonderhandelinge op Vereeniging, was hy een van die ses afgevaardigdes wat teen die vredesvoorwaardes gestem het. In 1912 het genl. JC Smuts hom oorreed om hom by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag aan te sluit, maar op 13 September 1914 het hy sy offisiersrang neergelê uit protes teen die Botha-regering se oorlogsbeleid en aktief aan die Rebellie (1914–1915) deelgeneem. Sy grootste militêre prestasie was waarskynlik sy heldetog deur die Kalahari in hierdie tyd. Na aanvanklike militêre welslae, was hy verplig om hom op 2 Februarie 1915 aan die regeringstroepe oor te gee. Na ’n periode van tronkstraf, is hy op 22 November 1916 vrygelaat. Nadat hy lid geword het van die Nasionale Party, is hy in 1920 tot Volksraadlid vir Wolmaransstad verkies; hy het hierdie kiesafdeling tot sy dood verteenwoordig. Van 1924 tot 1934 was hy Minister van Landbou en het hy ook met die nood van ekonomiese depressie te kampe gehad. Hy het genl. JBM Hertzog by die samesmelting met die Suid-Afrikaanse Party gesteun en daarna Minister van Lande geword, maar in 1936 en 1938 tydelik as Minister van Verdediging waargeneem. In die hoedanigheid het hy op 15 Desember 1938 tydens die Voortrekker-eeufeesviering aangekondig dat Robertshoogte voortaan as Voortrekkerhoogte sou bekend staan. In die Tweede Wêreldoorlog het Kemp genl. Hertzog se neutraliteitsvoorstel gesteun en hom daarna by die Herenigde Nasionale Party aangesluit en medeleier van die party in Transvaal geword. Kemp is op 31 Desember 1946 op Piet Retief oorlede. Hy was ’n dapper en vasberade man wat vurig aan ’n republikeinse regeringsvorm vir Suid-Afrika geglo het. 

1898 – Sita (mev. SS de Kock), skrywer († 10 Mei 1987)

Sara Susanne de Kock (geb. Bosman) is ’n Wes-Transvaler van geboorte, wat haar skoolopleiding op Potchefstroom voltooi het. Haar eerste pennevruggie het op 24 Maart 1924 verskyn. Tien jaar lank is sy redaktrise van die kinderdeel van Die Brandwag en dien daarna in die redaksies van verskillende tydskrifte. Meer as honderd boeke het uit haar pen verskyn, waaronder talle romans, jeug- en kinderboeke, kortverhale, novelles, genealogiese werke, toneelstukke, operettes, ens. Twee van haar jeugboeke Bennie-Boet en Janette is met die Scheepersprys vir jeuglektuur bekroon. Sy het ook verskeie tekste vir operettes geskryf wat deur die befaamde Vlaamse komponis Armand Preud’hommé getoonset is.

1918 – Alewyn Petrus (AP) Grové, letterkundige kritikus en taalkundige († 25 Februarie 2004)

AP Grové was ’n letterkundige en professor en hoof van die Departement Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Pretoria en later dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Hy is vir ’n termyn voorsitter van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ook lid en vir ’n tyd voorsitter van die Akademie se Letterkundekommissie. Hy skryf verskeie werke oor die letterkunde. Die skrywer Henriette Grové was sy vrou.

 

Sterftes

1929 – Andries Gerhardus (AG) Visser, mediese dokter en digter (* 1 Maart 1878)

AG Visser is in ’n tent “in die tuin met die groot saffraanpeerboom” op die plaas Zaaifontein in die distrik Frazerburg gebore. Tot sy dertiende jaar bly hierdie later beminde digter en geneesheer in die vrye Karoo-omgewing, waarna hy sy skoolloopbaan as tydgenote van Totius en DF Malherbe in die Hugenote-Gedenkskool voortsit. Nadat hy hom as onderwyser bekwaam het, hou hy van 1896 in Carnarvon skool, waar hy op 20-jarige ouderdom hoof van die skool word. Tydens die Engelse Oorlog toon hy openlike simpatie met die Transvaalse burgers en bots met die militêre owerhede op die dorp. Hy bedank uit sy pos en gaan hom bekwaam as medikus in Edinburg, Skotland. By sy terugkeer praktiseer hy aanvanklik op Carnarvon, later op Steytlerville, waar hy Lettie Conradie ontmoet en in 1913 met haar in die eg verbind word. In 1916 vestig hy hom op Heidelberg, Transvaal. Na die dood van sy eerste vrou in 1920 ontmoet hy ’n jong onderwyseres, Marie de Villiers, in 1923, met wie hy in 1927 in die huwelik tree, ’n egverbintenis wat nie lank geduur het nie, want Visser sterf skielik aan ’n hartaanval op 10 Junie 1929. Reeds gedurende sy skooljare het hy gedigte geskryf wat onder die voorletters AV of AGV in Ons Kleintji gepubliseer is. Dit was egter na die dood van sy eerste vrou dat hy, onder die aanmoediging van Eugène Marais, hom met erns aan die poësie gewy het. In 1925 verskyn Gedigte, hoofsaaklik minnepoësie, patriotiese verse, ligte satire en vrolike verse. Die volk het dit toeganklik gevind, en dit beklemtoon die besondere bydrae wat Visser as digter gespeel het – om die Afrikanervolk poësie te laat lees. In 1948 is hierdie bundel die sestiende keer herdruk. Voor sy dood verskyn Rose van Herinnering (1927) en na sy dood word Die Purper Iris (1930) en Uit ons prille jeug (1930) gepubliseer. As geneesheer het Visser die harte en vertroue van mense met woord en daad verower en sy opofferende – en dikwels gratis – diens veral in die griepepidemie het bewondering by die gemeenskap afgedwing. Die Hertzogprys is twee keer aan hom toegeken. Dit is uitsonderlik dat ’n kunstenaar 47 jaar oud word voordat hy in erns begin dig en dan sy belangrikste werk in minder as een jaar tot stand bring. Eugène Marais skryf in sy In Memorium voor in Gedigte: “… indien dr. Visser vier jaar vroeër die Ewige Stilte ingegaan het, Suid-Afrika nooit een van sy mees populêre digters sou geken het nie …”

2002 – Dr. Andreas Petrus (Attie) van der Colf, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ’n digter verantwoordelik vir 126 berymings in die Liedboek van die Kerk (* 1 Januarie 1933)

Dr. Attie van der Colf was ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, onder meer van 1977 tot 1995, toe hy sy emeritaat aanvaar het, verbonde aan die NG gemeente Linden, en ’n digter verantwoordelik vir 126 omrymings in die Liedboek van die Kerk. Van der Colf was een van die grootste drie bydraers tot die Liedboek. Sy vars, eietydse berymings sluit verbeterings van ouer Afrikaanse tekste, nuwe Afrikaanse tekste vir bekende geestelike liedere in ander tale en nuwe oorspronklike Afrikaanse tekste in. Sy bekendste lied is waarskynlik die Afrikaanse weergawe van “Amazing Grace”. Hy is op 10 Junie 2002 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/