9 JANUARIE
January 9, 2016
11 JANUARIE
January 11, 2016

Gebeure

1806 – Beëindiging van die Bataafse bewind aan die Kaap

Ná die nederlaag van genl. JW Janssens by Blouberg op 8 Januarie 1806, het die Britse troepemag onder genl. D Baird ook Kaapstad binnegetrek en is die voorwaardes van oorgawe op 10 Januarie 1806 op Papendorp (Woodstock) onderteken en op 19 Januarie 1806 bekragtig. Daarvolgens sou die Kaap vir die tweede keer in die hande van Brittanje oorgaan om nooit weer onder Nederland se gesag te staan nie.

1879 – Allereerste Afrikaanse preek gedruk

Vandag in 1879 het ’n Afrikaanse preek vir die heel eerste keer in druk verskyn toe Die Afrikaanse Patriot ’n preek van ds. PD Rossouw van die NG Gemeente Fraserburg gepubliseer het. Sy Afrikaanse preke is in 1881 in boekvorm uitgegee onder die titel “Godsdienstige stukke”.

Ds. Rossouw het in die Patriot van 28 September 1884 verduidelik waarom hy in Afrikaans skryf: “Ons skryf in di Afrikaanse taal omdat ons weet dat dit werklik ’n taal is, en dat di argumente van di voorstanders daarvan, nog nooit weerleg is ni, en nooit weerleg kan word ni. ’n Ander rede is, omdat ’n mens ver hom in di Afrikaanse taal kragtiger kan uitdruk dan in Hollands, en omdat daar ’n seggingskrag, ’n direktheid, ’n onnoembare iets is, wat in baing tale nie word gevonde ni.

“Ook verstaan di meeste van onse mense dit beter dan iets anders, en word die veragterste van ons landgenote daardeur in di gelegenheid gesteld om omtrent di dinge wat di saligheid van sy siel aangaan te hoor lees in ’n taal wat hy alle dage spreek en hoor.”

1888 – Swartbergpas geopen

Die amptelike opening van die Swartbergpas deur die kommissaris van kroongronde, kol. F Shermbrucker. Die pas is gebou deur die meester pas-padbouer Thomas Baines.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Lord Frederick S. Roberts arriveer in die Kaap

Lord Frederick S. Roberts arriveer aan die Kaap en vervang Sir Redvers Buller as opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog.

Lord Roberts het op 10 Januarie 1900 in die hawe van Kaapstad aangekom aan boord van die Dunnottar Castle.

Die Dunnottar Castle was ’n passasiers- en posdiensskip tussen Brittanje en Suid-Afrika. In November 1899 word die Dunnottar Castle in die Anglo-Boereoorlog as troepeskip opgeroep. Sy het genl. Redvers Buller en 1500 troepe na Kaapstad geneem vir oorlogspligte en op die volgende reis is Lord Roberts en Lord Kitchener vervoer. In die oorlog het sy gereeld gereis tussen Brittanje en die Kaapkolonie en het van die beroemdste Boereoorlogstryders van destyds vervoer, waaronder twee beroemde verkenners, majoor Frederick Russell Burnham en kol. Robert Baden-Powell, sowel as ’n jong oorlogskorrespondent vir die Morning Post – Winston Churchill.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Agtertangstasie, Slingerfontein en Colesberg

1900 – Die Britse offensief

Na die “Swart Week” het die Britse leër versterkings gestuur en op 10 Januarie 1900 het die nuwe soldate saam met generaal-majoor Lord Kitchener en Lord Roberts in Kaapstad aangekom. Na die aankoms van die ekstra manne het die Britse leër vinnig binneland toe getrek. Roberts het besluit om die Boererepublieke van die Kaapkolonie te verower, in ooreenstemming met hul oorspronklike strategie. Hy besluit om die westelike spoorlyn vir sy opmars te gebruik en sien die ontsetting van Kimberley as sy hoofdoel. Nadat hy dit bereik het, sou hy die spoorlyn verlaat en ’n oostelike aanval op Bloemfontein maak en dan na Pretoria opruk. Vanaf Januarie 1900 het hy ’n mag van 45 000 man vir die komende veldtog byeengebring.

2014 – Tafelberg se kabelkar (sweefspoor) verwelkom sy 23-miljoenste besoeker op die berg

 

Geboortes

1818 – Prof. Dirk Postma, Nederlandse en Suid-Afrikaanse teoloog en grondlegger van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika († 28 Desember 1890)

Dirk Postma is op hierdie dag in Dokkum, Friesland, gebore uit die huwelik van Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Die gesin het die Gereformeerde geloof van harte liefgehad en vreemd gestaan teen die opkomende liberalisme en modernisme ná die Franse Revolusie. Hy kon weinig skoolgaan en moes reeds op 15-jarige ouderdom as loodgieterskneg sy weduwee-moeder help onderhou. In dieselfde jaar verskyn die geskrif Verdediging van de ware Gereformeerde leer … van ds. Hendrik de Kock in Ulrum, wat lei tot die kerklike Afskeiding van 1834 en die stigting van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland. Die Postma-gesin het ook met die protes teen die gees van die 19de eeu meegegaan. Hierdie mense wou buig onder die algehele gesag van die Bybel en die Belydenis van die Hervorming in die 16de eeu onverswak handhaaf. Terwyl die Nederlandse Regering die Afskeiding hardhandig onderdruk het, het Postma die roeping gevoel om predikant te word. Ná een jaar studie by die huis van die Semitikus, ds. TF de Haan, word hy op 19 Junie 1840 as predikant toegelaat en bekwaam hy hom verder deur selfstudie. Hy het vier gemeentes in Nederland bedien en ’n leidende rol ten opsigte van die opleiding van predikante, die Christelike onderwys en kerklike aktiwiteite gespeel. Die Sinode van 1857 het gevolglik vir ds. Postma, toe ’n wewenaar, afgevaardig om aan die Transvaalse Regering in hulle nood aan predikante en onderwysers hulp namens die Sinode te gaan aanbied en tegelyk ook sendingmoontlikhede te ondersoek. Hy het moeite gedoen om ’n kerklik skeuring te verhoed en het hartlike verhoudinge met die enigste predikant in Transvaal, ds. D van der Hoff, onderhou. Die Algemene Kerkvergadering het hom op 11 Januarie 1859 kragtens die grondwet ondersoek of hy Gereformeerd is en verder oor aan sy standpunt oor die sing van Gesange uitgevra. Postma wou dit aan die vryheid van predikante oorlaat. Die vergadering het die gebruik daarvan egter verpligtend gestel. Postma het hom bereid verklaar om predikant van die te stigte Gereformeerde Kerk op Rustenburg op 11 Februarie 1859 te word. Hy het as enigste predikant tot 1862 uit Rustenburg-kerke in Transvaal, die Vrystaat en Noordoostelike Kaapkolonie bedien. Vanaf 1863 het hy kragdadig aan die onderwys van die jeug en oprigting van skole aandag gegee. Vanaf 1864 het hy begin om aanhuis-uitgesoekte manne, onder andere ’n onderwyser soos Jan Lion Cachet, opleiding as predikante te verskaf. In 1866 het hy met die oog daarop ’n beroep na Burgersdorp aangeneem en saam met Cachet in 1869 die predikante-opleiding aan die pas gestigte Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika behartig. Hy het feitlik in die tuig op 28 Desember 1890 gesterf. Postma se groot bydrae was nie beperk tot die opleiding van roepingsbewuste predikante, besiel met liefde vir die gereformeerde geloof nie; hy was ook vurige pleitbesorger vir die regte van Hollands in die Engelse Kaapkolonie. Dit is veelseggend dat die Taalmonument ter herdenking van die verkreë reg om Hollands in die Kaapse Parlement te besig, in Burgersdorp opgerig is. Hy was ook ’n voorstander van plaaslike sending en het in 1870 daarvoor ’n breë beleid uitgewerk. Sy grootste betekenis na buite lê egter in sy onvermoeide ywer en volharding om vrye Christelike skole vir Christelik-nasionale Onderwys op die plase en dorpe op te rig en toe te sien dat daar oortuigde Calviniste en Afrikaners voor die kinders staan. Sodoende het hy ’n bydrae tot die Afrikaanse volkswording en kultuur gelewer wat van onskatbare waarde was.

1843 – Willem Petrus de Villiers, predikant in die NG Kerk, lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering, kampvegter vir Christelike Nasionale Onderwys en taalstryder († 10 April 1908)

1872 – Andries Dreyer, sendeling en kerkhistorikus († 31 Augustus 1938)

Andries Dreyer – sendeling, kerkhistorikus en argivaris van die NG Kerk, joernalis en Africana-versamelaar – is op Philadelphia in Kaapland gebore. Hy het hom aanvanklik vir die onderwys bekwaam. Met private studie het hy in 1896 in die sendelingeksamen van die NG Kerk geslaag. Hy is op 12 Maart 1903 georden as sendeling van die gemeente Kaapstad met die Kleurlingwyk Hanoverstraat as werkkring. In 1928 het die NG Kerk hom uit hoofde van sy veelvuldige kerkhistoriese publikasies tot die eerste heeltydse kerkargivaris en redakteur van die jaarboek (almanak) van die NG Kerke in Suid-Afrika benoem, ’n pos wat hy tot sy dood op 31 Augustus 1938 beklee het. Sy kerkhistoriese arbeid, sy bronnepublikasies en sy kosbare Africana-versameling het in 1937 aan hom ’n eredoktersgraad in die lettere van die Universiteit van Suid-Afrika besorg. Tientalle gemeentelike en kerkgedenkalbums het uit sy pen verskyn, en hoewel hy nie as ’n vakkundige geskiedskrywer beskou is nie, het hy ’n benydenswaardige historiese sin geopenbaar en in meer as een opsig die weg gebaan vir die wetenskaplike beoefening van die kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika.

 

Sterftes

1946 – Hjalmar Reitz, politikus, skrywer en oudste seun van pres. FW Reitz (* 25 Februarie 1877)

Hjalmar Reitz is in Bloemfontein gebore as die oudste seun van pres. FW Reitz. Hy studeer in die regte in Londen en Amsterdam. In 1899 keer hy na Suid-Afrika terug om deel te neem aan die Engelse Oorlog, maar word by Vryheid gevange geneem en na Indië verban. Na die oorlog voltooi hy sy studie en verwerf ’n doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Amsterdam. Nadat hy in Pretoria in die regspraktyk gestaan het, word hy tot die Transvaalse Provinsiale Raad verkies as ondersteuner van genl. Hertzog van 1915 tot 1924. In laasgenoemde jaar word hy verkies tot Volksraadslid vir Brits en in 1933 verteenwoordig hy Jeppe. In 1919 is Reitz as lid van die Vryheidsdeputasie na Europa aangewys om die Boeresaak te gaan stel. Hy het reeds in 1903 die novelle De dochter van den handsopper geskryf. As mederedakteur met Tielman Roos, publiseer hy in 1909 Principles of Roman-Dutch Law en saam met Harm Oost Ons land en sy volk: ’n nasionale jaarboek, 1931. Sy outobiografie, wat hy in Engels skryf, verskyn in 1946: The Conversion of a South African Nationalist. Hy is op 10 Januarie 1946 in Johannesburg oorlede.

1966 – Dr. Abraham Hendrik Jonker, skrywer en joernalis (* 22 April 1905)

Abraham Jonker is die skrywer van ’n aantal romans en verhale met ’n sterk sosiale tendens in die sogenaamde nuwe saaklike styl. Hy is in die distrik Boshof gebore. Jonker sal veral onthou word vanweë sy bewuste poging om vernuwing in die Afrikaanse prosa te bring met werke soos Bande in 1933 en Maskers in 1938. Hy is op 10 Januarie 1966 oorlede.

1968 – Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges, koerantman, kultuurleier, advokaat en politikus, Staatspresident van Suid-Afrika (* 8 Maart 1898)

Theophilus Ebenhaezer Dönges is op Klerksdorp gebore. As student op Stellenbosch verwerf hy die grade BA en MA (Filosofie) met onderskeiding, waarna hy hom aan die Universiteit van Londen in die regte bekwaam. In 1925 verwerf hy die LLD-graad aan dié universiteit. Terug in Suid-Afrika, tree hy tot die joernalistiek toe, onder meer as hoof-assistentredakteur van Die Burger. Vanaf 1927 tot 1948 het hy regsgeleerde gepraktiseer. In dié tyd het hy reeds begin om ’n prominente rol in die godsdienstige, kulturele en ekonomiese lewe van die Afrikaner te speel. Hy dien as bestuurslid in verskeie organisasies, onder meer as ondervoorsitter van die FAK. In 1941 tree hy tot die politiek toe as LV vir Fauresmith. Daarna volg ’n lang en toegewyde politieke loopbaan, onder meer as Minister van Binnelandse Sake (vanaf 1948), Kaaplandse leier van die Nasionale Party (vanaf 1953), en Minister van Finansies (vanaf 1958). Die kroon word op die openbare loopbaan van die innemende dr. Dönges gespan toe hy in 1967 as Staatspresident aangewys word. Ernstige siekte en sy dood in Januarie 1968 het verhinder dat hy die amp kon beklee. 

1975 – Dr. Anna Petronella van Heerden, eerste Afrikaanse vrou wat as geneesheer opgelei is (* 26 April 1887)

Dr. Petronella van Heerden was ’n pionier in die ware sin van die woord. Sy was die eerste Afrikanervrou wat as geneesheer gekwalifiseer het (Amsterdam 1915), as geneesheer in Suid-Afrika gepraktiseer het, en haar proefskrif (vir haar doktorsgraad in ginekologie in Amsterdam in 1922) in Afrikaans geskryf het. Sy was ook skryfster, onder ander van die bekende Kerssnuitsels, en ’n Afrikanervrou wat enduit die Afrikaner bygestaan en hoër help vorder het. Waar sy self uitgestyg het, moes haar volksgenote ook kom staan. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org