9 FEBRUARIE
October 31, 2016
11 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1840 – Mpande word koning van die Zoeloes 

MW Pretorius verklaar Mpande as koning van die Zoeloes nadat die mag van Mpande se broer, Dingane, gebreek is by ’n laaste geveg by Magongo op die Umkuzirivier. 

1841 – Erasmus Smit tree af 

Erasmus Smit, omstrede predikant onder die Voortrekkers weens o.a. ’n mate van twyfel oor die legitimiteit van sy toelating tot die bediening, word gedwing om af te tree nadat Daniel Lindley die vorige dag bevestig is. Smit en sy vrou het in armoede op ’n klein pensioen in Pietermaritzburg gewoon totdat hulle altwee in 1863, een week uitmekaar, gesterf het. 

1859 – Die eerste gemeente van die Gereformeerde Kerk in Transvaal is in Rustenburg gestig 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skrmutseling by Basternek/Hobkirks Farm, Colesberg 

1901 – Genl. Christiaan de Wettrek die Kaapkoloniebinne 

Teen die einde van Januarie 1901 het genl. De Wet besluit om die Kaapkolonie vir die tweede keer binne te val, om sodoende alle gerugte dat die oorlog verby is, die nek in te slaan. De Wet, vergesel van pres. Steyn, begin sy tog by Doornberg, by Winburg, op 26 Januarie 1901. Kitchener was vasbeslote om De Wet hierdie keer gevange te neem en organiseer die grootste van alle De Wet-jagtogte. Knox, Plumer en talle ander Britse bevelvoerders word gebruik om die Oranjerivier of Norvalspont ooswaarts te beset. De Wet ontduik die Britte en gaan self weswaarts, waar hy op 10 Februarie 1901 Zanddrift, noordwes van Philippolis, die Kaapkolonie intrek. Toe Knox en Hamilton op 12 Februarie by die drif aankom, moes hulle vasstel dat De Wet hulle weer eens verkul het. Van alle kante is Britse troepe gebring om hulle op De Wet toe te spits. Die gedenkwaardige Kaapse tog, wat vol skitterende moed en volharding was, het begin. De Wet kon nie die koers inslaan wat hy beplan het nie en moes voortdurend van rigting verander. Sy besondere krygsoordeel, -vernuf en -vermoë om in krisissituasies koel en bedaard te bly, is by uitstek beproef. Die elemente van die natuur was egter ’n groot struikelblok in hierdie inval. ’n Groot droogte en sprinkaanplae het veroorsaak dat daar weinig gras vir die perde was. Geweldige reëns het gesorg dat die Oranje- en Caledonrivier in vloed was en het veld en vleie in modderpoele verander. Met veel ontbering is manskappe en perde verby Philipstown, Strydenburg, Hopetown en Petrusville. Telkens wanneer ’n dorp ingeneem is, het die koloniale burgers, nieteenstaande krygswet, inligting aan die kommando verstrek en hulle van perde en voedsel voorsien. Sommige rebelle het dit ook gewaag om by die kommando aan te sluit. Knox het die verwoede jagtog voortgesit. De Wet het telkens die burgers met die beste perde posisie laat inneem om die agterhoede te dek. Op merkwaardige wyse is hulle, in die nag, deur Moddervlei, maar hulle word uiteindelik tussen die Oranje- en Brakrivier, wat in vloed was, vasgekeer. Op vernuftige wyse het De Wet weer eens sy teenstanders uitoorlê. Hy besef egter dat hy in hierdie omstandighede dit nie lank in die Kaapkolonie sal kan uithou nie en besluit om teen die einde van Februarie terug te gaan na die Vrystaat. Hoewel hierdie inval nie juis ’n militêre sukses was nie, het De Wet ’n strategiese sukses behaal. Groot was die verleentheid toe die Britse parlement op 14 Februarie 1901 open en dit bekend word dat De Wet en sy manskappe op Britse grondgebied gestaan het. 

1908 – Voorloper van Universiteit van Pretoria 

Altesaam 32 studente begin in die Kya Rosa in Skinnerstraat, Pretoria, klas draf by die destydse Transvaal Universiteit College, wat later as die Universiteit van Pretoria sou bekend staan. 

1911 – Pres. MT Steyn se standpunt oor SA in n Europese oorlog 

In die brief aan JX Merriman skryf pres. MT Steyn dat hy bekommerd is daaroor dat Suid-Afrika dalk in ’n Europese oorlog betrek kan word. Ander mense se rusies het immers niks met ons te doen nie, en die Unie moet nie onnodig ingesleep word nie, maar die land se verdedigingsake moet nietemin gesond wees. Suid-Afrika moet byvoorbeeld nie tot die instandhouding van die Britse vloot bydra nie, maar sy eie weermagsake opknap. 

1916 – Eerste Wêreldoorlog: Genl. Jan Smuts word aangestel as bevelvoerder van die geallieerde magte in Oos-Afrika 

1942 – Die Afrikaanse Handelsinstituut kom tot stand op Maccauvlei 

Die klimaat wat die Ekonomiese Volkskongres van Oktober 1939 en die gevolglike stigting van die Reddingsdaadfonds en die Ekonomies Instituut geskep het, het die geboorte van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) moontlik gemaak. Met die stigting van die AHI het Afrikaans wat eers geen erkenning en gebruik gehad het nie, geleidelik tot sy reg in die sakewêreld begin kom.  

2008 – Universiteit van Pretoria vier 100 jaar 

 

Geboortes 

1860 – Nicolaas (Nico) Hofmeyr, predikant, skrywer en skoolinspekteur († 20 November 1932) 

Nicolaas, Hofmeyr, die derde seun van prof. MJ Hofmeyr, is op Stellenbosch gebore. Hy was aanvanklik predikant, later onderwysman en skrywer van veral skoolboeke. Hy het heelwat musiekwerk gedoen, waarvan “Afrikaners Landgenote” en “Afrikaanse Bruilofslied” alombekend geraak het. Hy is op 20 November 1932 in die Strand oorlede. 

1872 – Johannes Hendrik Conradie, politikus en administrateur van Kaapland († 21 Januarie 1940) 

1875 – George Alfred Brand, staatsaanklaer en seun van pres. JH Brand († 24 Desember 1922)

Generaal George Alfred Brand op Bloemfontein gebore as jongste seun van pres. JH Brand van die Oranje-Vrystaat. Hy kwalifiseer homself as staatsaanklaer. Tydens die ABO veg hy aan die Natalse front, en onderskei homself by Spioenkop. Hy veg ook aan die westelike front, en is bekend daarvoor dat hy etlike spoorlyne vernietig het. Hy was teenwoordig by die Vrede van Vereeniging, en het vir vrede gestem.

1926 – Nicolaas Cornelius (Nico) Carstens, trekklavierspeler, komponis en boereorkesleier († 1 November 2016) 

Nico Carstens, Suid-Afrika se trekklavierkoning, is te Bellville, Wes-Kaap, gebore. Hy en Anton de Waal het saam al meer as 600 oorspronklike liedjies die lig laat sien, waaronder “Zambesi, wat nie net internasionale erkenning gekry het nie, maar ook internasionale roem vir Nico gebring het. Toe hierdie musiekstuk deur Eddie Calvert, die Britse trompetspeler, in 1958 opgeneem is, was dit sewentien weke lank op die Britse treffersparade en is een miljoen van die plate verkoop. 

 

Sterftes 

1947 – Edwin Alfred Conroy, Boeregeneraal en politikus (* 2 November 1879) 

Edwin Alfred Conroy is op Hanover, Kaapland, gebore. Nadat hy hom in Desember 1900 by genl. Hertzog se troepemag aangesluit en ook gedien het in die lyfwag van pres. MT Steyn, word hy deur genl. CR de Wet as kommandant van die Kaapse rebellemag by Kakamas aangestel en later as veggeneraal. Na die vredesluiting vlug hy na Duits-Suid-Wes-Afrika en besoek ook Duitsland. In 1914 neem hy aan die Rebellie deel. In 1920 word hy vir die eerste keer tot lid van die Volksraad verkies, en hy sou in sy parlementêre loopbaan wat tot in 1943 strek, onwrikbare lojaliteit teenoor genl. Hertzog betoon. Hy is op 10 Februarie 1947 op Parys, OVS, oorlede.

1999 – Anna Cloete, Suid-Afrikaanse aktrise (* 18 Julie 1913) 

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/