9 APRIL
November 1, 2016
11 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1820 – Die eerste Britse Setlaars kom in Algoabaai aan

In 1820 is groepe immigrante van verskillende dele van Engeland, Wallis, Skotland en Ierland op die oostelike grens van die Kaapkolonie gevestig. Dit het deel uitgemaak van ’n skema deur die Britse regering om die Oosgrens te beskerm teen aanhoudende infiltrasie in die Kolonie en aanvalle deur swart stamme, spesifiek die Xhosas.

Die eerste Britse Setlaars, ’n groep van 271 mense, het op 10 April 1820 aan boord die Chapman in Algoabaai aangekom. Hulle het eers in ’n tydelike kamp op Algoabaai se strand gebly, waarna hulle op eie koste per ossewa na hulle toegewysde plase geneem is. Dit het die grootste gedeelte van die Zuurveld tussen die Boesmans- en die Groot Visrivier, vanaf Grahamstad tot aan die kus beslaan.

’n Totaal van ongeveer 4000 Setlaars het hulle in die gebied gevestig. Die eerste vyf jaar was ’n tydperk van bittere stryd en teleurstellings vir die Setlaars. Hulle moes in die primitiefste omstandighede vir hulleself wonings probeer oprig en boerderye op die been bring terwyl hulle geteister is deur sprinkaanplae, wilde diere, droogtes, die groot vloed van 1823 en aanvalle deur die Xhosa. Na 1825 het dit geleidelik begin beter gaan met die Setlaars en het hulle uiteindelik ’n florerende boerderygemeenskap in die Oos-Kaap gevestig.

Die Britse Setlaars het ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die Kaap gemaak. Baie van hulle was nie boere nie en met die moeilike boerdery-toestande, die droogte, die Xhosas wat hulle gepla het en ander probleme, het baie van hulle na nabygeleë dorpe geskuif. Daar het hulle ’n groot bydrae gelewer met betrekking tot die ekonomiese, handels- en nywerheidsontwikkeling van die Kaap.

1854 – Grondwet van die Oranje-Vrystaat geproklameer

Na die ondertekening van die Bloemfontein-konvensie op 23 Februarie 1854, wat die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat verseker het, is ’n “Raad van Volksrepresentante”, of kortom Volksraad, van 29 lede deur die verskillende veldkornetswyke en dorpe verkies. Hul eerste bestuursdaad was om die tradisionele republikeinse staatsbeskouinge van volksoewereiniteit en uitoefening van die volkswil in ’n geskrewe grondwet vas te lê. Die twee uitlanders JJ Groenedaal, Nederlander en onderwyser, en JM Orpen, Ier en landmeter, het waarskynlik die grootste bydrae tot die bewoording van die grondwet bygedra. Na deeglike ontleding blyk dat sowel die grondwette van die VSA as die Franse Republiek van 1848 as model gedien het. Belangrik is egter die feit dat uit hierdie grondwette slegs oorgeneem is wat in ooreenstemming met die tradisies, gebruike, ervaringe en aspirasies van die burgers was. Die merkwaardige van die grondwet wat uiteindelik op 10 April 1854, skaars twee maande na onafhanklikwording, goedgekeur is, is dat dit ’n groepie eenvoudige Afrikanerboere was wat daaraan finale beslag gegee het; dat in die loop van die volgende halfeeu geen kardinale beginsel daarin gewysig of aangevul is nie; en dat dit reeds in die 19de eeu deur die beroemde Britse staatsregskenner, lord Bryce, en in hierdie eeu deur Kennedy en Schlosberg sowel as dr. GW Eybers as ’n model-grondwet aangeprys is. Naas die bydrae wat presidente JN Boshof, JH Brand, FW Reitz en MT Steyn gelewer het tot die vorming van die model-republiek, die Oranje-Vrystaat, moet die grondwet se rol daarin nooit misgekyk word nie. Teenoor die latere grondwet van die ZAR, wat uit 232 artikels bestaan het, het die Vrystaatse grondwet slegs 62 artikels bevat. In eenvoudige en duidelike taal is die kwalifikasies van die kiesers en die pligte en magte van die Volksraad, die Staatspresident en die Uitvoerende Raad bepaal en die regterlike mag omskryf, terwyl die krygstelsel se beginsels kort en kragtig omlyn is – alles volgens tradisies en ervaringe wat tot die Geuse in Nederland, die staatsbedeling onder die Kompanjies- en Britse bewind, die Trekker-konstitusies en eie Christelike en demokratiese beskouinge teruggevoer kan word.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Rietspruit, Dewetsdorp, OVS

1968 – Jim Fouché ingehuldig as tweede Staatspresident van Suid-Afrika

Die inhuldiging van mnr. Jacobus Johannes (Jim) Fouché as die tweede Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, het te midde van groot openbare belangstelling op 10 April 1968 in Kaapstad plaasgevind. Die inhuldigingsplegtigheid het geskied in die Groote Kerk, waar die predikante, dr. JS Gericke, dr. PSZ Coetzee en prof. WD Maxwell voorgegaan het. Daarna het mnr. Fouché die ampseed voor hoofregter LC Steyn afgelê. Na afloop van die inhuldiging is die nuwe Staatspresident na die Parade, waar hy deur die Eerste Minister, mnr. BJ Vorster, aan tienduisende lede van alle bevolkingsgroepe voorgestel is. In sy toespraak het mnr. Fouché gesê dat deur sy verkiesing erkenning gegee is aan die waarde van toegewyde diens van die gewone mens. Hy het ook daarvoor gepleit dat Suid-Afrika ’n beleid van leef en laat leef volg, en dat elke bevolkingsgroep die waarborg van selfbehoud moet hê.

 

Geboortes

1876 – Barend Rudolf Buys, “digter” en onder-redakteur van Ons Klyntji en Die Patriot  († 16 September 1949)

Bernardus Rudolf Buys, “digter” en onder-redakteur van Ons Klyntji en Die Patriot, is op Krompoort in die distrik Albert gebore. Hy het verskeie gedigte en twee novelles in Ons Klyntji gepubliseer, waarvan een, ’n Haastige Huwelik, in 1905 afsonderlik uitgegee is onder die skuilnaam Barbu. Sy ander skuilnaam waaronder hy gepubliseer het, was Darius Bendolf. Hy is op 16 September op Buffelshoek in die Pretoriase distrik oorlede.

 

Sterftes

1908 – Willem Petrus de Villiers, predikant in die NG Kerk, lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering, kampvegter vir Christelike Nasionale Onderwys en taalstryder (* 10 Jauarie 1843)

1931 – Hans Anton Aschenborn, bekende skilder en grafiese kunstenaar (* 1 Februarie 1888)

Hans Anton Aschenborn, bekende skilder en grafiese kunstenaar (houtgravures en etse) is in Kiel, Duitsland, gebore, ontvang aan die Reform-Realgymnasium kunsonderrig om ’n talent wat hy klaarblyklik van sy vader geërf het, te ontwikkel. In 1909 emigreer hy na SWA waar hy hom op die plaas Quickborn, Okahandja, vestig. Ondanks ernstige terugslae tydens en na die Eerste Wêreldoorlog, het hy hierdie nuwe land liefgekry, wat weerspieël word in sy kunswerke. Hy keer na Duitsland terug met die vaste voorneme om hom later weer in Suidwes te vestig, maar sterf op 10 April 1931 in Kiel, voordat hy die ideaal kon verwesenlik. Op Stellenbosch, waar hy gewoon het na die Eerste Wêreldoorlog, het hy met Pierneef, JFW Grosskopf en Sangiro bevriend geraak. Hy illustreer baie van Nasionale Pers se publikasies met pensketse, en sy eie prosasketse oor die dierelewe word deur Sangiro vertaal en in 1925 onder die titel Die Adelaar en ander Diereverhale uitgegee.

1973 – Prof. Gerrit Dekker, letterkundige adviseur en vertaler (* 11 November 1897)

Die ouers van prof. Gerrit Dekker het in 1893 uit Nederland in Suid-Afrika aangekom. Gerrit Dekker is in Pretoria gebore. In 1920 gaan hy na Nederland om te studeer. Met die proefskrif oor “Die invloed van Keats en Shelly in Nederland gedurende die 19de eeu” promoveer hy in 1926. In 1925 aanvaar hy ’n lektoraat aan die Potchefstroomse Universiteitskollege. Sy lewenswerk was sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis waarvan die eerste druk in 1935 verskyn. Hy is op 13 April 1973 op Klerksdorp oorlede.

2004 – Marita Napier, operasangeres (* 16 Februarie 1939)

Marita Napier was een van die grootste Suid-Afrikaanse operasangers van die 20ste eeu. Sy het al op die vernaamste operafeeste in Europa gesing – onder meer Bayreuth, Aix-en-Provence, Verona, München, Wiener Festwochen en Maggio Musicale Florence, asook in die voorste operahuise soos dié van Hamburg, München, Berlyn, Wene, La Scala, Parys, Covent Garden, Liceo, Teatro Colon, San Francisco en die Metropolitan.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/