30 OKTOBER
October 30, 2015
2 NOVEMBER
November 2, 2015

Gebeure

1659 – Jan van Riebeeck teken in sy dagboek aan dat die eerste roos aan die Kaap gepluk is

1859 – Stigting van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch

Toe aan die bekende dr. AJ van der Merwe by die Drie Eeuefees gevra is wat hy as die belangrikste gebeurtenis van die vaderlandse geskiedenis beskou, het hy sonder meer geantwoord: “Die oprigting van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch.” Die Kweekskool, soos dit in die algemeen bekend staan, is die gevolg van ’n historiese bewuswording en het ’n betekenisvolle gevolg. Plaaslike teologiese opleiding sou goedkoper wees en meer studente lewer om die baie vakante gemeentes van ’n snel groeiende kerk te vul. Maar dit gaan eintlik om “mijn vaderland”, soos die groot pleitbesorger Abraham Faure die historiese bewuswording van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, wat in 1824 sy eie plaaslike verband gekry het, verwoord. Deur van Nederlandse opleiding gebruik te maak, het liberale leraars sy standpunt ondergrawe. Die liberalistiese pers het dan ook by die oprigting smalend verwys na ’n “retreat for an old theology”. In die loop van meer as ’n eeu het sy Gereformeerde verantwoording van die Teologie-wetenskap internasionale erkenning gekry. Bykans drieduisend leraars het in die ou Drosdy, wat die Kweekskool huisves, afgestudeer om in Suider-Afrika, selfs in Nigerië en Japan, in die kerk voor te gaan. As teologiese fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch, het hy na verhouding die grootste getal nagraadse studente – onder wie ook buitelanders.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Die Boeremagte val die Kaapkolonie binne

1965 – Selfstandigheidswording van die Bybelvereniging van Suid-Afrika

Van 1820 tot 1965, dit wil sê 145 jaar, is Bybelwerk in Suid-Afrika deur die “British and Foreign Bible Society” georganiseer. Toe ds. HPM Steyn, later bekend as “Bybel Steyn”, in 1922 as voltydse sekretaris diens aanvaar, is ’n nuwe era begin. In 1924 reeds is op groter plaaslike seggenskap aangedring. Met die vertaling van die Bybel in Afrikaans is ’n “nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die Genootskap in Suidelike Afrika” ingelei. In 1935 is daarop gewys dat ’n Suid-Afrikaanse sekretariaat die werk doeltreffender kan doen. Die hoofbestuur in Londen het hierdie oordeel nie gedeel nie. Die bestuur in Kaapstad het op reorganisasie bly aandring, totdat Steyn in 1948 as hoofsekretaris vir Suid-Afrika en die aangrensende gebied aangestel is. In 1957 neem ds. JTM de J van Arkel by hom oor en is daar voortgegaan om Bybelwerk ’n nasionale onderneming te maak. Die naamsverandering dui dit aan; want vanaf 1961 luit dit: “Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika – Hulpvereniging van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap”. Vanaf 1 November 1965 tree dit uit eie reg op en sonder ’n buitelandse binding.

 

Geboortes

1805 – Jacobus Groenendaal, politikus van Nederlandse herkoms († 27 November 1860)

Jacobus Groenendaal is in Heerwaarden, Nederland, gebore. In 1849 kom hy op vry gevorderde leeftyd na Suid-Afrika en vestig hom as onderwyser in die distrik Fauresmith. Hy lewer goeie diens en help in 1854 om die Vrystaatse Grondwet op te stel. Hy word ook die eerste staatsekretaris, neem selfs as president waar en tree as tesourier-generaal op. In 1856 verplig swak gesondheid hom om al sy betrekkings neer te lê. In 1858 word hy weer Volksraadslid en probeer die Vrystaat eerder met Kaapland as met Transvaal laat federeer. Hy het die jong Vrystaatse Republiek na binne en buite sterk help grondves, buitelands opgeleide amptenare gewerf, om eie staatsimbole gepleit, die invloed van Nederlands en Nederlandse handel en Nederlandse immigrante bo ander elemente gesteun, want dan kon die Vrystaat vinniger ‘n eie Afrikaanse karakter ontwikkel. Groenendaal was een van talle immigrante wat die Afrikanerdom om sigselfs ontwil wou sien ontplooi en wat persoonlik daartoe meegewerk het. Hy is op 27 November 1860 op Fauresmith oorlede.

1889 – Martha Mabel Jansen, skryfster, opvoedkundige en kultuurleier († 8 Januarie 1979)

Martha Mabel Jansen, gebore Pellissier, is op Bethulie, Kaapland, gebore en in getroud met dr. EG Jansen, goewerneur-generaal van Suid-Afrika van 1951 tot met sy dood op 25 November 1959. Sy het baanbrekerswerk in die bevordering van Afrikaans verrig. Hoofsaaklik deur haar onvermoeide ywer as bestuurslid van die Saamwerk-Unie van Natal, is daar begin met Afrikaanse taaleksamens, wat wyer uitgekring het totdat dit van 1917 dekades lank as die Taalbondeksamens afgelê is. Op kultuurgebied is sy tot die eerste vroulike lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gekies, was sy lid van die Argiefkommissie en die Vlagkommissie, en stigterslid en eerste onderleier van die Voortrekkerbeweging. In 1929 met die stigting van die FAK, is sy as die eerste, en sover nog die enigste vroulike lid van die FAK se Uitvoerende Komitee gekies, en sy was lid tot 1935. Die FAK se Erepenning vir Volksdiens is op 11 Julie 1974 aan haar toegeken. Sy is op 8 Januarie 1979 in Pretoria oorlede.

 

Sterftes

1904 – Willem Eduard Bok, Transvaalse staatsekretaris, na wie Boksburg genoem is (* 28 Junie 1846)

Willem Eduard Bok is in Texel, Nederland, gebore. In 1876 vestig hy hom in die ZAR op uitnodiging van pres. TF Burgers. Hy vereenselwig hom dadelik met die saak van die Afrikaner en word spoedig aangestel as sekretaris van verskeie Volksraadkommissies. Hy tree ook op as sekretaris tydens die onderhandelinge tussen die ZAR en Theophilus Shepstone in 1877. Na die anneksasie van die ZAR dien hy as sekretaris van albei deputasies na Engeland (1977 en 1878) en tree in die tyd ook op as onderredakteur van De Volkstem, in welke hoedanigheid hy die saak van die Boere ernstig bepleit. In 1880 word hy as Staatsekretaris van die ZAR beëdig en beklee die amp tot 1889, waarna hy notulehouer van die Uitvoerende Raad word. Van 1892 tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog dien hy as regeringskommissaris in die gesondheidskomitee van Johannesburg. Na ’n lang en getroue diens aan die staat is hy op 1 November 1904 oorlede. Ter nagedagtenis is Boksburg na hom genoem. 

1909 – Pieter Jeremias Blignaut, politikus (* 26 Junie 1841)

Pieter Jeremias Blignaut, ook wel P.J. Blignaut, was ’n Suid-Afrikaanse politikus, staatsamptenaar, Staatsekretaris van die Oranje-Vrystaat en het twee keer waargeneem as Staatspresident, eers na die dood van Staatspresident Brand en weer na die bedanking van Staatspresident Reitz.

1956 – Gideon Brand van Zyl, Suid-Afrikaanse politikus en sewende Goewerneur-generaal van Suid-Afrika (1946–1950) (* 3 Junie 1873)

2016 – Nico Carstens, ’n Suid-Afrikaanse trekklavierspeler, komponis en boereorkesleier (* 10 Februarie 1926)

Nico Carstens, Suid-Afrika se trekklavierkoning, is te Bellville, Wes-Kaap, gebore. Hy en Anton de Waal het saam al meer as 600 oorspronklike liedjies die lig laat sien, waaronder “Zambesi”, wat nie net internasionale erkenning gekry het nie, maar ook internasionale roem vir Nico gebring het. Toe hierdie musiekstuk deur Eddie Calvert, die Britse trompetspeler, in 1958 opgeneem is, was dit sewentien weke lank op die Britse treffersparade en is een miljoen van die plate verkoop.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/