29 FEBRUARIE
October 31, 2016
2 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1803 – Kaap aan Bataafse Republiek teruggegee

Kommissaris JA de Mist (1749–1823) het op hierdie dag, in opdrag van die Bataafse regering van Nederland, vir JW Janssens as goewerneur, en die Politieke Raad en Raad van Justisie as belangrikste gesagsliggame van die Kaapkolonie ingestel, nadat die eerste Britse bestuurstyd (1795–1803) ten einde geloop het. Daarmee is die weg vir die amptelike toepassing van verligte Bataafse idees aan die Kaap geopen.

1847 – Kaapstad die eerste keer met gas verlig

1849 – Die Kaap Agulhas-vuurtoring begin werk

1941 – Volkspelebeweging gestig

In die begin van 1941 het die Reddingsdaadbond na vore gekom om Volkspele onder sy pas gestigte Afdeling vir Vryetydsbesteding onder sy vleuels te neem. Dit is toe dat die Uniale Komitee vir Volksang en Volkspele en Provinsiale en Gewestelike Volkspelekomitees in die lewe geroep is. Die eerste Uniale Komitee bestaan o.a. uit: dr. SH Pellissier (voorsitter); adv. JF Marais (sekretaris); dr. N Diederichs (namens die Reddingsdaadbond). Die eerste vergadering is deur dr. SP van der Walt geopen. Wat baie interessant en van historiese belang is, is die feit dat die notule van hierdie vergadering deur adv. JF Marais geskrywe is op 22 Maart 1941 in die Marshall plein-polisieselle, waar hy destyds aangehou is en daarna na die Interneringskamp op Koffiefontein gestuur is. Die organisasie van die Volkspelebeweging het dus in moeilike tye begin, maar met die drie Afrikaanse Kerke verteenwoordig in sy sentrale bestuur, en met die goeie wil en belangstelling van die Afrikanervolk, het hy van krag tot krag gegroei.

1994 – Walvisbaai amptelik deur Suid-Afrika aan Namibië oorhandig

2006 – Die Nuwe Nasionale Party ontbind

 

Geboortes

1797 – Gerhardus Marthinus (Gert) Maritz, Voortrekkerleier († 23 September 1838)

1850 – Abraham Paul (Abraham) Kriel, leraar en stigter van die Langlaagte-kinderhuis († 9 Junie 1928)

Abraham Paul Kriel, die stigter van die bekende kinderhuis wat vandag sy naam dra, is op die plaas Keerwater, Franschhoek, gebore. In 1880 is hy op Stellenbosch gelegitimeer as predikant van die NG Kerk. Veral word hy onthou vir sy belangstelling in die jeug. Reeds in sy eerste gemeente Du Toitspan by die Kimberleyse diamantveld, beywer hy hom veral vir armesorgwerk en onder sy leiding koop die kerkraad ’n huis, wat omgeskep is in ’n jeugtehuis. Op ’n besoek aan Europa maak hy kennis met verskeie weesinrigtings. Later sou hy weer sulke besoekreise onderneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog, bevind hy hom in die gemeente Witwatersrand-Wes (Langlaagte) en word hy veldprediker by die Boeremagte. Na die oorlog besluit sy gemeente om ’n kinderhuis in Langlaagte op te rig vir die kinders van ouers wat op die slagveld of in konsentrasiekampe oorlede is. Die kinderhuis het aanvanklik geen vaste inkomste gehad nie, maar word in antwoord op die gebede van die stigter en sy personeel steeds van die nodige middele voorsien. Na Kriel se dood op 9 Junie 1928 is die kinderhuis se naam verander in die Abraham Kriel-kinderhuis.

1878 – Andries Gerhardus (AG) Visser, mediese dokter en digter († 10 Junie 1929)

Andries Gerhardus Visser is in ’n tent “in die tuin met die groot saffraanpeerboom” op die plaas Zaaifontein in die distrik Frazerburg gebore. Tot sy dertiende jaar bly hierdie later beminde digter en geneesheer in die vrye Karoo-omgewing, waarna hy sy skoolloopbaan as tydgenote van Totius en DF Malherbe in die Hugenote-Gedenkskool voortsit. Nadat hy hom as onderwyser bekwaam het, hou hy van 1896 in Carnarvon skool, waar hy op 20-jarige ouderdom hoof van die skool word. Tydens die Engelse Oorlog toon hy openlike simpatie met die Transvaalse burgers en bots met die militêre owerhede op die dorp. Hy bedank uit sy pos en gaan hom bekwaam as medikus in Edinburg, Skotland. By sy terugkeer praktiseer hy aanvanklik op Carnarvon, later op Steytlerville, waar hy Lettie Conradie ontmoet en in 1913 met haar in die eg verbind word. In 1916 vestig hy hom op Heidelberg, Transvaal. Na die dood van sy eerste vrou in 1920 ontmoet hy ’n jong onderwyseres, Marie de Villiers, in 1923, met wie hy in 1927 in die huwelik tree, ’n egverbintenis wat nie lank geduur het nie, want Visser sterf skielik aan ’n hartaanval op 10 Junie 1929. Reeds gedurende sy skooljare het hy gedigte geskryf wat onder die voorletters AV of AGV in Ons Kleintji gepubliseer is. Dit was egter na die dood van sy eerste vrou dat hy, onder die aanmoediging van Eugène Marais, hom met erns aan die poësie gewy het. In 1925 verskyn Gedigte, hoofsaaklik minnepoësie, patriotiese verse, ligte satire en vrolike verse. Die volk het dit toeganklik gevind, en dit beklemtoon die besondere bydrae wat Visser as digter gespeel het – om die Afrikanervolk poësie te laat lees. In 1948 is hierdie bundel die sestiende keer herdruk. Voor sy dood verskyn Rose van Herinnering (1927) en na sy dood word Die Purper Iris (1930) en Uit ons prille jeug (1930) gepubliseer. As geneesheer het Visser die harte en vertroue van mense met woord en daad verower en sy opofferende – en dikwels gratis – diens veral in die griepepidemie het bewondering by die gemeenskap afgedwing. Die Hertzogprys is twee keer aan hom toegeken. Dit is uitsonderlik dat ’n kunstenaar 47 jaar oud word voordat hy in erns begin dig en dan sy belangrikste werk in minder as een jaar tot stand bring. Eugène Marais skryf in sy In Memorium voor in Gedigte: “… indien dr. Visser vier jaar vroeër die Ewige Stilte ingegaan het, Suid-Afrika nooit een van sy mees populêre digters sou geken het nie …”

 

Sterftes

1924 – Sir Cornelius Hermanus Wessels, politikus (* 26 April 1851)

1979 – Dr. Marthinus Smuts (Tinie) Louw, sakeman en entrepreneur wat medestigter en president van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) was (* 15 Augustus 1888)

As nederige, eerlike en opregte mens het Marthinus Smuts Louw ’n ontsaglike aandeel gehad in die uitbouing en opheffing van die Afrikaner op verskeie terreine, sodat sy persoonlike mylpale monumente geword het in die volksgeskiedenis van Suid-Afrika. Tinie Louw is as pastorieseun op Ladismith, Kaap, gebore. Hy beskik oor ’n besondere intellek, en in 1907 behaal hy sy graad BA (Hons) met Fisika as hoofvak aan die Universiteit van Stellenbosch. In sy studentejare toon hy ’n intense belangstelling in die toekoms van die Afrikaner en die Afrikaanse taal, en op die jeugdige ouderdom van twintig jaar is Tinie Louw ’n vurige kampvegter vir die Afrikaanse taal en Afrikanerregte. Hy tree as spreker op by talle taalkongresse, waar hy hom beywer om Afrikaans in die ereplek as die taal van die Afrikaner te help vestig. Met dr. Louw se toetrede tot die sakewêreld in 1918, het hy hom steeds beywer vir Afrikaanse taalregte; hierdie keer met ’n ietwat ander dimensie, naamlik om Afrikaans ook in die sakewêreld sy regmatige aandeel te laat geniet. As een van die stigterslede van die Ekonomiese Instituut van die FAK en later ook as lid van die Dagbestuur, beywer dr. Louw hom om die Afrikaner-idealisme ook by die Afrikaner-sakeman te laat ingang vind, en in dié verband was hy een van die voorste stryders van die regte van Afrikaanse sakeondernemings. Op sy voorstel is vroeg in 1940 die eerste konferensie vir verteenwoordigers van Afrikaanse sakeondernemings gehou. Nadat hy verkies word as voorsitter van die Ekonomiese Instituut in 1943, en veral na sy aanstelling as president van die AHI, ’n organisasie in wie se totstandkoming hy ‘n leidende aandeel gehad het, en wat vandag die invloedryke en gerespekteerde spreekbuis van die georganiseerde Afrikaanse sakeondernemings is, lewer dr. Louw sy grootste bydrae om die Afrikaanse sake, net soos die Afrikaanse taal, tot selfstandigwording te lei. In sy lang sakeloopbaan het hy verbintenisse met verskeie groot Afrikanerorganisasies gehad, van sommige waarvan hy voorsitter was en van ander waarin hy gedien het as direkteur – dink in die verband aan Sanlam, Bonuskor, NOK, Sasol, Saambou-(Permanente) Bouvereniging en vele ander. Sy aandeel in die ekonomiese bewuswording van die Afrikaner, laat in die dertigerjare, dien vandag nog as inspirasie vir ’n Afrikaner-sakegemeenskap, wat nie slegs met trots sy aandeel in die ekonomie handhaaf nie, maar steeds doelgerig daarin slaag om hierdie aandeel verder uit te bou. In 1965 is hy die eerste ontvanger van die HF Verwoerd-prys en in 1977 word die FAK se goue Erepenning vir Volksdiens aan hom toegeken. Dr. Louw is op 1 Maart 1979 oorlede.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/