30 NOVEMBER
November 30, 2015
2 DESEMBER
December 1, 2015

Gebeure

1834 – Vrystelling van slawe

Slawerny aan die Kaap was anders as op die plantasies van Noord-Amerika en Wes-Indië. Slawe was deel van die huishouding; hulle het opleiding geniet, en die skandale van Wes-Indië was onbekend. Tog is owerheidsmaatreëls mettertyd ingestel om die behandeling, kleredrag en voedsel van slawe tot in die fynste besonderhede te bepaal. Hulle werkure was gevolglik beter as die merendeel fabrieks- en mynwerkers in Brittanje. Die slawe-eienaars staan geleidelik afskaffing voor, maar die Britse regering besluit tot onmiddellike vrystelling vanaf 1 Augustus 1834 in die res van die Ryk en vanaf 1 Desember aan die Kaap. Van die 39 021 slawe was 5731 kinders onder ses jaar, en ook 3276 bejaardes en siekes. Die orige 35 745 word teen £3 041 290 gewaardeer, maar Brittanje betaal slegs £1 247 401 skadevergoeding, boonop in staatseffekte en in Londen. Slawe-eienaars kry uiteindelik slegs 41% van die waardasie. Veral die manier van uitbetaling verwek groot wrewel, en daar word bankrotskap en ellende en armoede en ’n skaarste aan arbeiders voorspel. Uiteindelik was die teendeel die geval en die invloei van kompensasiegeld lei tot ’n verbetering van die Kolonie se ekonomie. Boonop verloor gewese slawe-eienaars nie hul arbeiders nie, want dié moes vier jaar lank by hul vorige eienaars ingeboek bly. Na die vier jaar bly die oorgrote meerderheid ook by hulle in diens. Selfs vrygestelde slawe wat deur Voortrekkers meegeneem is, weier om na die Kolonie terug te keer. Die vrystelling van slawe was ook nie ’n noemenswaardige oorsaak van die Groot Trek nie, want die grootste slawebesit was in die Wes-Kaap wat slegs 2% van die Trekkers opgelewer het.

1847 – Harry Smith as goewerneur aan die Kaap ingesweer

1848 – Die Mitchellspas wat die dorpe Ceres en Wellington in die Wes-Kaap verbind, geopen

1914 – Rebellie: Genl. CR de Wet gevang

Na liggaam en siel moeg en hulle perde uitgeput en dors, het generaal CR de Wet en sy manskappe op 30 November 1914 op ’n waterryke plekkie tussen die sandduine afgekom – ’n ware paradys waar daar volop gras, water en koelte was. Ten tye hiervan, met die wete dat die rebellie weinig hoop op welslae het, was De Wet en sy klompie volgelinge op weg na Duitswes-Afrika, waar hulle met generaal Jan Kemp in aanraking wou kom. Hoewel De Wet steeds nie die vrede vertrou het nie, moes hulle noodgedwonge ’n dag lank daar uitrus. Met sonsopkoms die volgende oggend weerklink die opdrag: “Ons moet begin trek!” Maar, helaas, vanuit verskillende rigtings kom regeringsoldate op hulle af. Onversteurd oorhandig hy sy Mauserpistool aan kolonel JF Jordaan met die woorde: “Ek is bly dat dit ’n Afrikaner is wat my gevang het, want die eer – as dit n eer is – kom alleen ’n Afrikaner toe.” De Wet, vir die eerste keer ’n gevangene, is met eerbied behandel op die tog na die Fort in Johannesburg. Na liggaam was hy hulle gevangene, maar sy gees steeds onoorwinbaar en vry soos altyd. In die Fort is hy in eensaamheid opgesluit, waar hy weer ’n ernstige selfondersoek doen. Sy gewete is egter skoon, want hy en sy mense het teen ’n onreg protes aangeteken, ’n protes wat vir die toekomstige geslagte sou getuig dat sy volk nog ’n gewete het. Oor die Regering se besluit om oorlog te verklaar en Suidwes-Afrika binne te val, vertel hy later self: “Ek het gedink aan die vloek van God wat op die volk gaan rus as hy hom skuldig maak aan landrowing. Nadat ek eers begin optree het, het ek vrede gehad. Ek het geen knaende gewete gehad nie. Al het ek nie daarin geslaag om die goddelose inval op die gebied van ’n volk wat ons geen kwaad gedoen het nie, te keer nie, dan het ek tog probeer.” De Wet is in Bloemfontein verhoor en tot £2 000 boete en ses jaar gevangenisstraf gevonnis, waarop hy fier aan die regters wat die vonnis gevel het, gevra het: “Is that all?”

1948 – SA Buro vir Rasseaangeleenthede gestig

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

2007 – Elisabeth Fransoise (Elisabeth) Eybers, bekroonde digter en ontvanger van die Hertzogprys (* 26 Februarie 1915)

Elisabeth Françoise Eybers was ’n Afrikaanse digteres, en die eerste vrou wat ’n Hertzogprys vir poësie gewen het. Haar belangrikheid in die Afrikaanse poësie is geleë daarin dat sy begin het om die vrou se ervaringswêreld – die kennismaking met die liefde, swangerskap en geboorte, maar later ook besinnings oor die middeljare – te beskryf. Sy sterf in Amsterdam aan hoë ouderdom.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/