’n Monument van ’n pa se hartseer

Ouboet word dominee
Februarie 16, 2019
Naturally – Deca
Februarie 16, 2019

Deur Neels Jackson

Suid-Afrika
is ’n land vol stories. Groot stories en klein stories, mooi stories en
hartseer stories, bekende verhale en ander wat vergete raak.

 So nou en dan is daar so ’n storie waarvoor daar ’n monument opgerig word, soos die een van ’n liefdevolle pa wat sy dapper seun ná sy dood wou herdenk.

 Die seun was ’n mynwerker. Dit is ’n gevaarlike werk, en in die 1920’s was dit waarskynlik nog heelwat gevaarliker as vandag. ’n Ondergrondse rotsstorting kon maklik jou lewe eis.

En dit het ook, maar nie voordat die seun tydens die ramp agt ander mynwerkers se lewe gered het nie. Amper soos ’n Wolraad Woltemade diep onder die aarde. Op 28 het hy as ’n held gesterf, begrawe onder die puin van ’n mynongeluk.

’n Mens kan jou die pa se hartseer indink. Of dalk kan ’n mens dit juis nie doen nie, behalwe as jy ’n soortgelyke ervaring gehad het.

Hoe ook al. Die pa se hartseer oor die verlies van die seun was groot. En omdat die jong man se lyk nie herwin kon word nie, kon hy nie eens vir hom ’n behoorlike begrafnis hou nie. Daardie ritueel van afskeid neem was hom nie beskore nie.

Die pa het ’n manier gesoek om die verlies te verwerk. En as getroue Rooms-Katoliek het hy besluit om dit te doen op die manier waarop dit dikwels in die Katolieke en party ander kerke gedoen word: hy wou ’n gedenkplaat ter ere van en ter herinnering aan sy seun teen die binnemuur van hulle kerk laat aanbring.

Maar toe loop hy hom vas in die kerklike burokrasie. Of daar spesifieke reëls was waarvolgens besluit is wie so herdenk kon word en waarvolgens dié seun nie gekwalifiseer het nie, is seker moontlik. Dalk het die priester of die biskop of wie ook al moes besluit, net nie genoeg deernis met hierdie pa en sy hartseer gehad nie. Hoe sal ons weet? Maar die antwoord was nee. Hy mag nie ’n gedenkplaat vir sy seun teen die kerk se muur aanbring nie.

Maar dié pa het hom nie so maklik laat keer nie. Hy het eenvoudig besluit om sy eie kerk te gaan bou om sy seun te gedenk. Dis ’n klein kerkie. Daar is sitplek vir agt mense – soveel as wat die seun kon red voordat hyself omgekom het. Maar op ’n manier is dit ’n katedraal vir ’n pa se ontroosbare hartseer oor die verlies van die seun vir wie hy lief was. Boonop is dit later as ’n amptelike Katolieke kerk gewy.

Dit staan nou nog daar vlakby die N3-snelweg, op die grens tussen die Vrystaat en KwaZulu-Natal in Van Reenen, die dorpie aan die bopunt van die Van Reenenspas. Die bordjie sê: “Little Church”. Daar word die storie van Mayard Mathew en sy seun Llandaff vertel. Boonop is daar ’n teetuin waar ’n mens kan sit en rus so op die halfpadmerk tussen Gauteng en Durban.

 Die storie van die Little Church is nie die soort wat ’n draaipunt in die geskiedenis geword het nie, maar dit dra iets van die universele menslikheid wat van Suid-Afrika so ’n interessante land maak.

The post ’n Monument van ’n pa se hartseer appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico