Elani Dekker gesels oor genadegawes en geloof

Kom sit aan vir ʼn Pretoriase lees-fees
Maart 14, 2019
Openbarings plaas godsdiens in die kollig
Maart 14, 2019

Deur Christa Steyn

“Om te act is om te luister,” só sê die
21-jarige Elani Dekker wat die rol van Lisa in die romantiese drama Liewe Lisa, vertolk. Wanneer sy oor haar
persoonlike ontwikkeling as aktrise gesels, voeg sy by dat om teenwoordig te
wees in elke oomblik en om toe te laat dat wat ook al gebeur haar beïnvloed, op
’n manier help dat sy fiks bly om toneel te speel. Van kleins af was Elani
storiebehep en deesdae kan sy hierdie passie op die silwerdoek en as lektor
uitleef.

Toe Elani op 16 moes
vakke kies, nes al die ander kinders van haar ouderdom, wou sy eerder stories
vertel. Haar behoefte was egter nie om toneel te speel nie, maar om ‘eendag’
agter die kamera as regisseur te werk.

In 2015 het sy toe
besluit om Lelia Etsebeth en Jacques Bessenger se Acting on Screen-opleidingskursus by te woon, met die doel “om te
gaan, maar om agter in die klas te sit en niks te doen nie” en eerder te kyk
hoe om met akteurs te werk. Uit die aard van die kursus word sy verplig om
toneel te speel en vir die eerste keer het Elani gemaklik tussen vreemde mense
gevoel. In dieselfde jaar het sy ook opleiding in Amerika ontvang, wat onder
andere ’n Acting on Film-kursus by
die gesogte New York Film Academy, insluit.

Ongeveer ’n jaar later is
Elani vir haar eerste rol in ’n film gekies. Sy onthou dat Lelia haar gebel het
om te hoor of sy ’n oudisie vir Jou Romeo
sal doen en dat sy op die dag van die oudisies onseker gevoel het tussen talle
ander meisies wat baie meer ervaring as sy gehad het. “Dit breek my brein dat
kykNET besluit het om die rol vir hierdie meisie te gee wat niks ervaring het
nie,” vertel sy oor haar eerste hoofrol. Sedertdien het sy ook in Vaselinetjie en Raaiselkind gespeel, sowel as in Toorbos wat vroeg in 2020 vrygestel sal word.

Elani is van die begin
van 2019 af ook as lektor betrokke by Bright Light Film Academy, ’n inisiatief
wat filmopleiding aan hoërskoolleerders verskaf. Die kursus vorm nie deel van
die skoolkurrikulum nie en word dus as buitemuurse aktiwiteit aangebied. Elani
erken dat sy aanvanklik skrikkerig was, omdat sy nie die teoretiese kennis van
film het nie. Maar sy het gou besef dat haar ervaring in die bedryf uiters
waardevol is.

Oor haar ervaring van Liewe Lisa vertel sy dat dit anders was
as enige film waarin sy al gespeel het, grootliks weens die vryheid wat Hendrik
en Johan Cronjé as vervaardigers gehad het. Hendrik vertel soos volg: “Ware
onafhanklike films gee jou die vryheid om ’n storie te skryf en te
konseptualiseer soos jy wil of bedoel”. Elani meen dat sy juis as gevolg
hiervan ongelooflik baie respek vir die Cronjé-broers het, wat Liewe Lisa eiehandig en onafhanklik
gemaak het.

Wanneer sy oor haar
loopbaan, opleiding en die lewe praat, word dit duidelik dat Elani nie bang is
om openlik haar geloof en verhouding met God te erken nie. Haar storie getuig
van genade en ’n opregte dankbaarheid, wat die dryfveer agter haar menswees is.

Interessante feite:

  • Elani is ’n introvert.
  • Sy het ’n tweelingbroer.
  • Het sedert graad vier
    tuisonderrig ontvang.

Liewe Lisa is op 14 Februarie 2019 vrygestel. Vir meer inligting oor die film en ’n lys van fliekteaters waar die film vertoon gaan word, besoek die film se Facebook-blad.

The post Elani Dekker gesels oor genadegawes en geloof appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico