Raaisel van die raadsaal laat ysterridders ratel

Pretoria se voorvroue het verstikkende rokmodes slaafs gevolg
November 14, 2017
Regeringstroepe maai 1914-rebelle by Albert-silwermyn af
November 14, 2017

Die ou raadsaal Bron: delcampe

Wat is die geheime wat die ou raadsaal op Kerkplein se spoke verklap? Die raadsaal se verhaal met ’n hedendaagse kinkel in die kabel.

Die ou raadsaal
Bron: delcampe

President Paul Kruger het die hoeksteen van die ou raadsaal, ontwerp deur Sytze Wopke Wierda, op 6 Mei 1889 gelê. Dit is waar die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se Volksraadsittings gehou is tot en met die Engelse Oorlog.

Daar is menige spookstories rondom dié raadsaal, wat ’n gunsteling stilhouplek van die Pretoriase Spookbustoere is en orbse (energieballe) gereeld op foto’s verskyn. Gerugte lui dat die relings heen en weer wieg en die ornamentele pantserpakke van eertydse ysterridders ratel wanneer die spoke teen die trappe afkom.

Binne in die raadsaal
Foto: Zuid-Afrikahuis

Deur die jare het sekuriteitswagte wat by die raadsaal gewerk het, vertel van spookagtige voetstappe op die tweede en derde verdieping, gedempte krete uit die tronkselle heel onder en ’n diep gesug uit Paul Kruger se kantoor.

Vroeër jare was die koerante vol stories oor ‘spookfluisteraars’ wat in die raadsaal betrap is en gesê het dat hulle daar met Paul Kruger konfedereer. Die leier van dié fluisteraars het glo gesê dat hulle dit al 15 jaar lank doen.

Mantels
Die groep het uit omtrent 60 wit mans in swart mantels en kappies bestaan. Blykbaar het stadsraadpersoneel laat gewerk toe sekuriteitswagte hulle gevra het om die gebou te verlaat omdat dié groep mans gewag het om in te gaan.

Knap ná hulle in is, het ’n klok op die gebou se dak gelui en weer vyf minute later. Alle ligte in die gebou is afgeskakel. Die polisie het eers drie ure later opgedaag en die donker gebou met flitse binnegegaan.

Die groepleier het na vore gekom en verduidelik dat hulle toestemming het van ’n stadsraadslid om verskeie ou geboue in Pretoria te besoek sodat hulle met die geeste van ou volksleiers kan praat.

Hy het gesê dat hulle die afgelope 15 jaar reeds maandeliks met Paul Kruger in die raadsaal op die tweede vloer vergader.

Ondersoek
Munisipale woordvoerder, Selby Bokaba, het gesê dat die saak ondersoek sal word, maar nie ’n woord is sedertdien daaroor gerep nie.

Mariëtta Theunissen, ’n bekende spiritualis en medium, het gesê dat sy nog nooit van dié spookfluisteraars gehoor het nie. Sy het ook gesê dat hulle jok as hulle sê dat hulle met Paul Kruger kommunikeer omdat hy nie ’n rustelose siel is nie en sy hom nog nooit in al haar jare as medium raakgeloop het nie.

Begrafnis
Paul Kruger is op 14 Julie 1904 in sy selfopgelegde ballingskap in Clarens, Switzerland, dood. Sy stoflike oorskot het op 10 Desember in Pretoria aangekom en het tot die dag van die begrafnis op 16 Desember 1904, in die Suzannasaal van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Gemeente in staatsie gelê.

Op 16 Desember het al Pretoria se klokke sesuur die oggend vir ’n halfuur lank gelui en ongeveer 20 000 mense het aan die verrigtinge deelgeneem. Die begrafnisdiens was 10 uur die oggend voor die Gereformeerde Kerk oorkant Krugerhuis.

Die middag half vier was daar ’n byeenkoms op Kerkplein waar gewese staatspresident Schalk Burger, asook Christiaan de Wet en Louis Botha toesprake gelewer het.

Teen vieruur is ’n deel van die begrafnisstoet op Kerkplein opgestel. Die res van die stoet is by die Suzannasaal opgestel voordat dit na Kerkplein beweeg het, en het bestaan uit die lykswa deur swart perde getrek, vergesel van 16 slippe-draers, die ere lykswa, waens met kranse, ’n mannekoor wat treurliedere gesing het, familielede, hooggeplaaste regeringsamptenare en verteenwoordigers van ander lande.

Paul Kruger se kis, getrek deur swart perde in die stoet op pad na die begraafplaas
Bron: Rosa Swanepoel

Dié stoet is van vyfuur af deur Kerkplein en is toe met Kerkstraat na die begraafplaas terwyl al die klokke in Pretoria weer vir ’n halfuur lank gelui het.

President Kruger se begrafnisstoet gaan verby die ou raadsaal op 16 Desember 1904
Bron: by Hilton T

Die slotrede is by die poort van die begraafplaas deur ds. Van der Linde van Kroonstad gelewer. Slegs familielede het die kis na die graf gevolg.

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui