Pretoria se voorvroue het verstikkende rokmodes slaafs gevolg

Gevangene bou Pretoria se eerste tronk in ruil vir sy vryheid
November 14, 2017
Raaisel van die raadsaal laat ysterridders ratel
November 14, 2017

Christina Pretorius, dogter van oudpresident MW Pretorius, in ’n rok uit die laat 1870’s

Hoe lank het dit Europese modegiere geneem om in toeka se Pretoria pos te vat? Die idee dat plaaslike vroue in die middel van die 1850’s in pionierspakkies rondgeloop het, word die nek ingeslaan as ’n mens kyk na die hoepel- en busselrokke, die polonaise, draperings, valle en fluweelstrikke wat duidelik op foto’s van Pretoria se voorste vroue pronk.

André Malan van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum het in die Pretoriana no. 111 van 1998 vertel van die rokke uit vroeë Pretoria wat in die museum se versameling is. Vroue wat dié uitrustings gedra het, strek van presidentsvrou Mary Burgers, oudpresident MW Pretorius se dogter, die koerantredakteur en burgemeester se vrouens tot die dogters van Daniel Malan van Brandbach in die Cullinan-distrik.

Dik-tyd
Pretoria is in 1855 gestig – reg in die ‘dik-aantrektyd’ toe rokke wyer geraak het en ’n hele klomp onderrokke aangetrek moes word om die rok van die lyf af te laat wegstaan. Pretoria se warm somers ten spyt, het vroue die verstikkende modegier slaafs gevolg.

In Europa het vroue tot tien onderrokke bo-oor mekaar gedra om dié wegstaan-effek te vervolmaak. Minstens een van die onderrokke was van ’n dik materiaal, soos baai, gemaak. Baai was ’n effekleurige, growwe wolstof wat veral vir saalkleedjies gebruik is.

Die Boerevrou het destyds berig dat Suid-Afrikaanse vroue een groen baai en drie of vier ruim wit onderrokke benewens ander ‘bybehorens’ gedra het. In die 1850’s is krinolien ook gebruik – ’n stywe lap waarin perdehare geweef is.

Hoepelrokke 
Toe die hoepelrok in 1857 uitgekom het, was Pretoria se vroue lam van verligting. Om só ’n rok aan te skaf, het beteken dat jy van al jou stelle onderrokke bevry kon word. Die Staatscourant van 8 Desember 1863 wys dat Albert Broderick, met sy Hole in The Wall-kompleks op Kerkplein, hoepelrokke geadverteer het. ’n Jaar en ’n half later adverteer Albert dat hy nou hoepelrokke aanhou wat vir warm weer geskik is. Nog ’n paar maande later maak hy bekend dat hy hoepelrokke aanhou wat nie sal breek nie.

Die hoepelrokke van daardie jare was ongeveer vyf meter wyd om die soom. Die Nasionale Kultuurhistories Museum besit hoepelrokke uit dié era, soos die trourok van Maria Hermiena Dorothea Mundt, gebore Van Soelen, uit ongeveer 1860. Sy was die eggenote van Hans Heinrich Mundt, latere eienaar van die Pioniershuisie in Silverton.

Maria Hermiena Dorothea Mundt in die wye hoepelrok van 1860

Maria Mundt in ’n latere nouer hoepelrok
Foto’s: André Malan, Nasionale Kultuurhistoriese Museum

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hans het die plaas Hartebeespoort, waarop dié huisie gestaan het, in 1874 vir £1 400 gekoop. Dit is om en by dié tyd wat goud by Lydenburg en Pelgrimsrus ontdek is en Hans het besef dat sy plaas die ideale oorstaanplek op die hoof transportroete van Natal af goudvelde toe sou wees. Hy het ’n tender ingesit om vars perde vir George Heys se poskoetsdiens te verskaf. Hans het ekstra stalle, ’n koetshuis, buitegeboue vir ossewaens en ’n herberg vir moeë reisigers gebou.

In 1890 is silwer op die plaas ontdek en die Silver Mining Company het ’n deel van die plaas vir £9 000 by Hans gekoop. Maria met die pragtige hoepelrokke is in 1881 oorlede.

Wragtag

Nog ’n hoepelrok in die museum se versameling het behoort aan Johanna Maria Erasmus, gebore Prinsloo, wat op Wonderboompoort gewoon het. Sy was Willem Petrus (Willem Wragtig) Prinsloo se dogter.

Willem Wragtag se plaas is waar die Willem Prinsloo Landboumuseum op die Ou Bronkhorstspruitpad vandag is. Hy het die noordelike deel van die plaas Elandsfontein in 1896 van Roelof Minnaar teen £570 gekoop.

’n Entrepreneur met die naam van Thomas Major Cullinan se stokperdjie, om te prospekteer vir diamante, het hom na die noordwestelike deel van Elandsfontein gelok. Willem het verseg om vir hom ’n opsie te gee om dié deel te koop of daarop te prospekteer. Willem het vroeër twee plase, een in Modderfontein, afgestaan nadat prospekteerders minerale daarop gekry het.

Toe hy hom op Elandsfontein kom vestig, was hy mooi keelvol vir trek en het hy verklaar: “As daar weer ’n prospekteerder naby my plaas kom, skiet ek vir hom ‘wragtag’”. Vandaar sy bynaam. Die geskiedenis bewys egter dat Thomas Cullinan nie ’n man was wat maklik bes gegee het nie.

Willem se dogter Johanna se rok was van fyn wit moeselien met ’n yl oranje blaarmotief. Die aparte romp van byna vier meter wyd om die soom, is met fyn rygplooitjies in die middelband ingeryg met meer plooitjies agter as voor, wat op ’n datum in die vroeë 1860’s dui.

Skei

Presidentsvrou Mary Burgers se krinolet in die Nasionale Kultuurhistoriese Museum se versameling

Iewers in die 1860’s het die romp en lyfie van mekaar geskei en vrouens het rompe en bostukke gedra. Die rompgedeelte van die hoepel het vanaf 1865 begin vernou en die rompe is in bane na bo gesny. Die soom het van sirkelvormig na ellipties verander, met die skerp punt na agter sodat die romp effens gesleep het.

ZAR president Thomas Francois Burgers se vrou Mary, gebore Bryson, was ’n Skot wat in Europa studeer het en lief daarvoor was om die nuutste modes te dra, veral die busselrok, wat  in die 1860’s en 70’s hoogmode was.

Mary se krinolet is in die Nasionale Kultuurhistoriese Museum se versameling. Die krinolet was ’n kleiner weergawe van die hoepelonderrok of krinolien. Party modelle het ’n busselstut daarby ingebou gehad, maar ander het ’n los bussel bo-oor gehad.

Die oorromp het ’n voorskoot-effek geskep. Dit is bo-oor ’n onderromp gedrapeer en was as die ‘polonaise’ bekend. Dié rokke het ook skuins na agter geloop en gesleep.

Polonaise
Die polonaise was ’n noupassende lyfie wat agter met klein knopies vasgemaak het. Die ‘voorskoot’ het van die middel voor gehang. Dit is in diep voue van regs na voor gedrapeer en dan na agter geswaai, waar dit in die middel saamgevat is om ’n busseleffek te vorm, vanwaar dit tot by die knieë afgehang het om ’n ‘waterval’ te vorm.

Mary kon dit nie maklik gehad het in ou Pretoria nie. Thomas is op 1 Julie 1872 op die ouderdom van 38 jaar as ZAR president ingesweer. As Kaapse predikant moes Thomas vanuit die staanspoor ’n bittere stryd teen verdagmakery voer.

Omdat hy, met al sy persoonlike besittings, pa gestaan het vir ’n hele aantal lenings vir die republiek, was hy verarm toe die republiek op 12 April 1877 deur die Engelse geannekseer is. Hy is vir dié anneksasie blameer, het sy gesondheid verloor en het saam met sy gesin in ’n skaapwagtershut in die Karoo geëindig waar hy half blind saam met diere moes damwater drink. ’n Mens wonder wat van Mary se mooi rokke geword het?

Bussel

Magdalena Celliers in ’n busselrok uit die 1870’s

Nog ’n vooraanstaande uit dié tydperk was die eerste redakteur van De Volkstem, Johannes Francois (Jan) Celliers. Sy vrou, Magdalena Celliers, gebore Bisseaux, was lief vir busselrokke met ’n vol romp en ’n peplum agter aan die bostuk. Hulle seun was die digter Jan FE Celliers en hulle dogter, Suzanna Wilhelmina (Sannie), is met Anton van Wouw getroud.

Christina, die beeldskone dogter van ZAR staatspresident Marthinus Wessel Pretorius, seun van Voortrekkerleier Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, het die busselrok se opvolger in die middel van die 1870’s beroemd gemaak. Draperings en valle was nog te siene, maar dié soort rokke het al hoe meer vernou en het lang slepe gehad.

Mev. JC Preller met die Britse besetting in 1880

Teen 1880 was die rokke so nou dat vroue skaars kon loop. ’n Foto uit die 1880’s met die Britse anneksasie van Pretoria wys burgemeestersvrou, Johanna Christina Preller, in so ’n rok. Sy was die vrou van Gustav Schoeman Preller, agterkleindogter van Piet Retief.

Die materiaal van haar uitrusting lyk of dit met ’n satynstreep geweef is. Die gebruik van kontrasterende lap het daardie tyd al hoe meer gewild geraak.

Bruid 
In 1885 het ’n jong Britse vrou uit Sheffield as die bruid van Sammy Marks in Pretoria aangekom. Sammy is in sy veertigs met Bertha getroud en hulle het nege kinders gehad. Hy was ’n sakeman wat tussen 1880 en 1920 ’n groot rol in mynwese, nywerheid- en landbou-ontwikkeling gespeel het.

Sammy Marks se plaas was Zwartkoppies, langs Hatherley, wat toe aan Alois Hugo Nellmapius behoort het. Rondom Oktober 1881 het Nellmapius saam met die maatskappy Lewis and Marks, bestaande uit Sammy Marks en neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming met die naam ‘De Eerste Fabrieken’ gevorm.

Sy huis, Zwartkoppies Hall, het na verskeie aanbouings 45 kamers gehad vol ornamente en handgemaakte meubels van oorsee. Dit is vandag die Sammy Marks-museum op die Ou Bronkhorstspruitpad en Bertha se smaak kan duidelik hier gesien word.

Sy was baie modieus in die tyd wat die tweede busselfase hoogty gevier het – 1883 tot 1885. Oorsee was die proporsies van dié ‘wipstert’ glo so buitensporig dat ’n mens ’n skinkbord met teekoppies op so ’n bussel kon balanseer.

Dié tyd se bussel het elke seisoen verander en het uiteindelik in ’n opgestopte kussinkie in die 1890’s bly voortleef. Sommige was van walvisbeenhoepels en ander van fyn netdraad gemaak.

’n Suster van Bertha Marks in die busselrok van 1885

Cullinan
Selfs die Malan-vrouens van Brandbach net buite Cullinan se rokke is in die geskiedenis opgeteken. Daniel Malan se dogter, Jacoba Margaretha (Cootie), is getroud met LJA (Lou) Erasmus, wat op die plaas Brakfontein net anderkant Irene, geboer het.

Jacoba Margaretha Erasmus, die dogter van Daniel Malan van Brandbach, in die vroeë 1890’s

Daar is ’n bekende foto van haar in ’n rok wat uit die vroeë 1890’s dateer. Dit wys die tydperk se tipiese brokaatpaneel en die romp is buisvormig met volheid om die heupe. Rompe het vanaf ongeveer 1893 in ’n klokvorm verander.

Cootie se moue is bloot ’n klein pofvorm, terwyl moue later tot reuse skaapboudmoue verander het. Ná 1897 het die moue weer begin kleiner word.

Cootie se halfsuster, Maria Isabella (Malie) Malan, is in 1898 met haar neef, Johannes Wilhelmus Malan, getroud en haar trourok van grysblou wolstof is in die museum se versameling.

Cootie is in 1903 oorlede en Lou het op 17 Januarie 1905 met haar niggie, Aletta Adriana (Lettie) Malan, hertrou. Sy was die dogter van Jacob Cornelis Malan en Johanna Catharina, gebore De Lange.

Lettie se weduweema het haar bruidsuitset per katalogus van Parys af bestel deur ’n winkelier in Pretoria, ene mnr. Boscher. Die hele uitset, bestaande uit vier rokke, ’n bloes en ‘tea gown’ wat sy as japon gedra het, is ook in die museum se besit.

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui