Over-Vaal. Die geskiedenis van ‘n ampswoning
Desember 5, 2017
Die Kasteel De Goede Hoop
Desember 12, 2017

deur Daantjie Dinamiet

“Siddie, Siddie, Siddie!”

Wie onthou nog die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks op 25 Julie 1970 op Loftus Versfeld? Dit was vyf jaar na die Springbokke se rampspoedige toer deur Nieu-Seeland, en ook die eerste reeks na die toer deur Brittanje wat deur betogers ontsier is en eweneens ’n ramp was.

Die Springbokke was vasberade om hierdie reeks met ’n oorwinning af te skop, en ’n held was nodig om daardie oorwinning te verseker. Suid-Afrika moes nog ses jaar lank wag vir televisie, en die legendariese sportkommentator Gerhard Viviers het die wedstryd aan die luisteraars van die Afrikaanse radiodiens van die SAUK beskryf: Die All Blacks het ’n strafskop in hul eie gebied gekry en op die ou einde het die All Black-kaptein, Brian Lochore die bal gekry. Toe onderskep die Springbokke se regtervleuel Syd Nomis, wat sedert 1965 al deel van die span was, die bal en nael doellyn. Gerhard was op sy stukke, en die mees onthoubare stukkie sportkommentaar in ons land se geskiedenis het gevolg. Dit was dalk Leon Schuster wat later jare gesê het Gerhard kon bly wees dat die Springbokke se haker in daardie wedstryd, Piston van Wyk, nie die drie gaan druk het nie. Op die ou einde het die Springbokke met 17-6 gewen, maar meer mense sal Gerhard se kommentaar as die uitslag onthou.

Gerhard se bynaam was Spiekeries, omdat dit altyd sy antwoord was wanneer iemand hom gevra het hoe dit met hom gegaan het. Twee sangers het ook doodseker gemaak dat sy bynaam nie vergeet sou word nie. Leon Schuster het Gerhard goed geken, en in sy liedjie “Gerrie Seer Handjies Coetzee”, op die wysie van Anton Goosen se treffer “Kruidjie-roer-my-nie”, het Leon gesing van ’n boksgeveg in Mmabatho in die destydse Bophuthatswana, waarin Gerhard glo vir Leon Spinks met Jon Tate verwar het. Later het Bok van Blerk, wat in 1970 toe Gerhard met daardie stukkie legendariese kommentaar vorendag gekom het, nog nie eens ’n gedagte was nie, ook aan hom hulde gebring. Bok het die liedjie “Spiekeries” opgeneem, na aanleiding van wat sy oupa hom daarvan vertel het.  Toe Leon Schuster ’n omroeper by die SAUK was, het hy die program Die vrypostige mikrofoon aangebied; hy het mense gebel en het hulle gek geskeer. Gerhard het ook deurgeloop. Leon het hom voorgedoen as ’n polisieman wat navraag gedoen het oor Gerhard se vuurwapenlisensie. Hy het Gerhard daarvan beskuldig dat hy “op die rug van sy bekendheid gery het”, en dit het Gerhard absoluut woedend gemaak. Op die ou einde het Leon vir hom gesê dat dit inderdaad hy was.

Gerhard het egter nie net as rugbykommentator bekendheid verwerf nie. Die legendariese bokser Pierre Fourie, seker die beste Suid-Afrikaanse bokser wat nooit ’n wêreldtitel gewen nie, het aan ’n geveg teen Bob Foster deelgeneem. Weer eens was daar nog nie televisie nie en die luisteraars was op Gerhard se kommentaar aangewese. Gerhard was vurig patrioties, en het die luisteraars vertel dat Pierre Fourie besig was om die geveg te wen, terwyl die teendeel die waarheid was.

Gerhard se volgende stukkie legendariese rugbykommentaar het ook in ’n  wedstryd teen ’n Nieu-Seelandse span gekom, maar dit was die Nieu-Seelandse Kavaliers, wat eintlik maar net die All Blacks onder ’n ander naam was. Die nasionale rekordhouer in 400 meter-atletiek, Jaco Reinach was die Springbok-regtervleuel in daardie reeks. Die laaste wedstryd in daardie reeks het op Ellispark gespeel. Die skeidsregter het voordeel toegelaat nadat een van die Kavaliers die bal aangeslaan het; toe kry Reinach die bal. Toe begin Gerhard lostrek: “Hier is spoed, hier is spoed, hier is spoed,” totdat Reinach gaan druk het. Dit was die laaste drie van daardie reeks.

Gerhard was ook ’n stemkunstenaar. Hy was bekend daarvoor dat hy Lexington-sigarette gerook het, en sy stem is vir dié advertensies gebruik in die dae toe dit nog wettig was. Sy praatstem is gebruik vir Martin Pols se karakter in die rolprent Hoor my lied. Gerhard se bekendste rol as akteur was seker dié van Tom Mc Donald, Philip Moolman se karakter se pa in Jan Scholtz se televisiereeks Die sonkring.

Gerhard is op 15 Desember 1998 in die ouderdom van 72 jaar aan kanker oorlede.  Hy was die tipe sportkommentator wat net een keer in ’n land se geskiedenis na vore kom en Afrikaanssprekende sportliefhebbers sal nooit weer na iemand wat naby hom kom, kan luister nie. Engeland en Skotland het vir Murray Walker en Bill Mc Laren gehad; Suid-Afrika het vir Gerhard “Spiekeries” Viviers gehad.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui