Jeugdag

Donderdag 16 Junie is dit 35 jaar gelede wat weerstand teen blanke regering in Soweto uitgebars het. Dit was inderdaad ‘n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, wat die regering en weerstandsgroepe in ballingskap (soos die ANC) ewe veel verras het.

Daar is al baie geredeneer oor die oorsake en gevolge hiervan. Die vonk by die kruitvat was die onelegante afdwing van Afrikaans as voertaal in skole waar te min onderwysers Afrikaans magtig was. Maar die kruitvat was die oorweldigende en groeiende getal swartmense rondom “blanke” stede. Hulle was noodsaaklik vir die ekonomie, maar is sosiaal en polities uitgesluit. Frustrasie hieroor het, soos dikwels, by die jeug oorgekook. Na 16 Junie 1976 het die internasionale aanslag teen die blanke bewind in Suid-Afrika toegeneem en binnelands is orde nooit heeltemal herstel nie. Dit sou in die 1980′s weer uitbars en uiteindelik lei tot die magsoorname van 1994. Een van die vernietigendste gevolge van die Soweto-opstande was dat skole slagvelde van die “struggle” geword het.

“Liberation before education” was ‘n slagspreuk wat ‘n hele geslag se onderwys en opleiding ontwrig het. Byna 20 jaar na die “struggle” sy doel bereik het, is tot 80% van “township”-skole steeds disfunksioneel. Die vernietiger van swart onderwys was nie “Bantu Education” nie, maar die “struggle.”

In wese was die “struggle” ‘n magstryd om met Suid-Afrika as prys. Afrikaners het geglo magsdeling sou magsoordrag wees en was nie daarvoor te vinde nie. Swartmense wou nie toegewings hê in ‘n stelsel wat hulle uitgesluit het nie, hulle wou die mag oorneem.

In 1960-1964 het dieselfde magte teen mekaar te staan gekom. Blanke mag is toe bevestig en met streng veiligheidswetgewing in stand gehou. Dit was nie ‘n oplossing nie, maar dit het tyd gekoop om ‘n oplossing te bewerkstellig. Die NP-regering het dit in aparte vryhede vir Suid-Afrika se verskillende volke gesien. As dit kon slaag, sou die magstryd ontlont kon wees.

Grootskaalse uitbreiding van die swart state (tuislande) was ongewild en boonop wou blankes nie hulle swart arbeidsmag verloor nie. Afrikaners en ander blankes wou ‘n utopia handhaaf van ‘n blanke heersersklas en ‘n onderdanige swart arbeidsklas wat bereid was om teen lae lone te werk. Die swart jeug van 1976 het in tuislande en Afrikaanse onderrig niks anders as dit gesien nie – en dit verwerp.

Prakties gesproke het Afrikaners vandag geen mag nie. Hulle is in ‘n soortgelyke situasie as swartmense in 1976: Uitgesluit van mag (hoewel nie formeel nie) en noodsaaklik in ‘n bepaalde sektor van die ekonomie. Vir hule eie aspirasies – buiten geld maak – is daar geen vooruitsig nie.

Gaan die Afrikanerjeug hulle permanent deur geld laat omkoop, of emigreer as dit nie meer genoeg is nie? Wat van die “oortollige” Afrikaners wat in armoede verval? Wat sal die Afrikanerjeug, soos die van Soweto in 1976, laat opstaan vir vryheid?

 

Lewer Kommentaar