Gevangene bou Pretoria se eerste tronk in ruil vir sy vryheid

Toe Pretoria nog ’n regte ‘leeuwnes’ was
November 14, 2017
Pretoria se voorvroue het verstikkende rokmodes slaafs gevolg
November 14, 2017

Die voorste ingang na die Visagiestraat-tronk Foto: dcs.gov.za

Angie Kleijn

Pretoria se eerste tronk is deur ’n gevangene gebou. Die ooreenkoms was dat hy die tronkgebou binne ’n jaar oprig, in ruil vir sy vryheid. Die tronkvoël het dié projek so vinnig afgerammel, dat die hartbeeshuisie met grasdak heel onstabiel was.

Andries Francois du Toit, Pretoria se eerste landdros, het op 31 Desember 1859 bedank omdat die owerheid nie ’n tronk wou bou nie

Pretoria is in 1855 rondom ’n kerk aangelê. Mettertyd is allerhande noodsaaklike dienste in plek gesit, maar dié kerkdorpie se dorpsvaders het geweier om ’n tronk te laat bou.

Andries Francois du Toit, Pretoria se eerste landdros, moes, benewens al sy ander pligte, ook die rol van tronkbewaarder speel. In sy eie woorde het hy toentertyd gesê dat dit hom moeilik geval om “eene jêk of all trades te zijn”.

Sy vertoë vir die bou van ’n tronk het op dowe ore geval en uiteindelik het hy op 31 Desember 1859 bedank omdat hy dit nie langer kon verduur nie.

In 1860 is daar vir tenders vir die bou van ’n tronk en “een algemene landskantoor” gevra. Voordat die tenders toegeken kon word het die burgeropstand uitgebreek. In 1864 is weereens vir tenders gevra.

Die goewermentskantoor is wel gebou – sy laaste deel is in 1870 voltooi – maar die tronk-projek het agterweë gebly. Dit is nou tot ’n nuwe landdros tot ’n ‘goedkoop’ plan ingestem het.

Alexander
Op 4 April 1865 het landdros Moll ’n man met die naam van Alexander Anderson tot twaalf maande gevangenisstraf met harde arbeid gevonnis. Dit is nie duidelik wat Alexander se oortreding was nie.

Omdat daar nie ’n tronk was waarin Alexander opgesluit kon word nie, was landdros Moll te vinde vir ’n plan. Sou Alexander die tronk in minder as ’n jaar bou en homself gedra tot die tronk klaar gebou is, sou hy op vrye voet gestel word.

Die hartbeeshuis-tronkie wat Alexander gebou het was op die hoek van die huidige Pretorius- en Paul Krugerstrate. Dié lamlendige geboutjie was redelik onstabiel en dit was nie juis moeilik om uit die grasdak-struktuur te ontsnap nie. Maar die veroordeelde het sy deel van die ooreenkoms nagekom, en het as vry man weggestap.

Tweede tronk
Dit was eers in 1873, op die aandrang van landdros Skinner, dat die regering besluit het om ’n volwaardige gevangenis op te rig. Die nuwe tronk is ongeveer in 1875 op die terrein van die ou SA Munt, op die hoek van die huidige Bosman- en Visagiestrate, voltooi.

Die voorste ingang na die Visagiestraat-tronk
Foto: dcs.gov.za

Dié tronk was agter ’n hoë omringende muur, maar die galg het oop en bloot aan die westekant van die muur in die tuin gestaan en was van die straat af sigbaar sodat teregstellings deur nuuskieriges aanskou kon word.

Agter die muur was ’n afdeling vir verhoorafwagtendes, ’n sinkgeboutjie vir die aanhouding van jeugdige oortreders, twee aparte geboue vir blanke en nie-blanke vroulike oortreders en selblokke vir blanke manlike gevangenes. Nie-blanke mans is in een groot sel binne die vierkant wat deur die blanke mans se selle gevorm is, aangehou.

Daar was ook stalle, ’n siekekamer, kombuis, die sipier en sy assistent se huise en huisvesting vir die ongetroude bewaarders. Getroude bewaarders se huise was in Minnaarstraat.

Die mans se enkelkwartiere oorkant die ou menasie-gebou
Foto: dcs.gov.za

’n Watersloot wat uit die rigting van die Fonteine gekom het, het deur die tronkterrein geloop en daar is wasklippe neergelê sodat die gevangenes self hulle klere kon was.

Alle gevangenes, behalwe dié wat die geboue en terrein skoongemaak het, het bedags buite die tronk in gruisgate of aan paaie gewerk.

Eers in 1895, nadat ’n groep gevangenes ’n tonnel tot in Visagiestraat gegrou het om te ontsnap, het die selle sementvloere gekry.

Die muur en wagtoring van die tronk in Visagiestraat
Foto: dcs.gov.za

Derde
Vanaf 1890 is vertoë gerig vir die bou van ’n sentrale gevangenis waaruit dit moeiliker sou wees om te ontsnap en waar gevangenes nie meer toegelaat sou word om buite die tronk te werk nie.

’n Kommissie is aangestel om ’n geskikte terrein te soek en hulle het ’n stuk grond aangrensend aan Von Wiellighstraat aangewys. Die hoof van die departement van gevangeniswese het ’n kosteberaming vir die oprigting van die nuwe gebou gedoen en gesê dat dit nie veel sou kos nie, omdat al die werk deur gevangenes gedoen sou word.

In 1898 is dit besluit om dié planne voorlopig op ys te sit en knap daarna het die Engelse Oorlog uitgebreek en die Boererepubliek het nooit die kans gekry om dié planne tot uitvoer te bring nie.

Ná die oorlog het die Britse direkteur van gevangenis ’n pleidooi vir die bou van ’n nuwe tronkgebou in die veld ver van Pretoria af, gelewer. Bouwerk aan die sentrale tronk is, ná verskeie vertragings, in Desember 1904 deur die firma Prentice en Mackey begin en is in 1907 voltooi.

Die voorste ingang na die destydse Sentrale Gevangenis wat in 1907 voltooi is

Tim Jenkin wys een van die houtsleutels waarmee hy en Stephen Lee in die 1970’s ontsnap het
Foto: Daily Mail

Vandag staan die bekende rooi baksteengebou in Potgieterstraat, binne-in die middestad.

Tussen 1912 en 1938 is die gemeenskaplike selle na enkelselle verander. Elektrisiteit is in die 1930’s toegevoeg, met die bedrading  aan die buitekant van die mure.

Oor die jare het slegs enkeles uit dié tronk ontsnap. Een van die bekendste ontsnappingstories is dié van politieke gevangenes, Tim Jenkin en Stephen Lee. Dié twee het in die 1970’s oor ’n tydperk van 18 maande elf houtsleutels in die tronkwerkswinkel gemaak om alle hekke en deure waardeur hulle moes wegkom, oop te kon sluit. Hulle het die bewaarders gefnuik deur menspoppe te maak wat in hulle beddens gelê het, terwyl die twee in kaste weggekruip het tot die oopsluitkans daar was.

Hang 
Die rooi baksteengebou van die Pretoriase Sentrale Gevangenis is vandag verberg agter nuwe geboue. Die deel van die tronk wat jy van die pad af kan sien, is die afdeling waar verhoorafwagtendes aangehou is.

Die ter-dood-veroordeelde afdeling, wat in 1966 gebou is, was in die middel van die struktuur. Daar is menige berugtes, soos Daisy de Melker, gehang. Daisy is op 30 Desember 1932 in die ouderdom van 46 jaar gehang nadat sy skuldig bevind is op die klag van moord deur vergiftiging. Sy was die tweede vrou wat in Suid-Afrika gehang is. Dit word gesê dat Daisy vandag nog in die gange op pad na die galgkamer ronddwaal.

Daisy de Melker is op 30 Desember 1932 by die Pretoriase Sentrale Gevangenis gehang nadat sy skuldig bevind is op die klag van vergiftiging. Sy was die tweede vrou wat in Suid-Afrika gehang is

Die ou ter-dood-veroordeelde afdeling word nou amptelik C-Max genoem. Suid-Afrika het die doodstraf op 6 Junie 1995 afgeskaf, maar galg-dood is reeds in 1989 opgeskort.

Die ou galgkamer het op 8 Desember 2011 nuwe lewe gekry toe dit op ’n glansgeleentheid as nasionale gedenkwaardigheid vir openbare besigtiging oopgestel is.  Gedenktekens is opgerig vir alle politieke gevangenes wat hier gehang is.

Die galgkamer in die ter-dood-veroordeelde afdeling van die tronk is as nasionale gedenkwaardigheid gerestoureer en staan as die Galgmuseum bekend
Foto: AOL

Dié museum se ‘galgroete’ begin in die C-Max-afdeling se berugte sel 37 (onder gevangenes bekend as ‘die pot’), waar veroordeeldes hul laaste ure deurgebring het voordat hulle met die trappies op na die galgkamer begelei is.

Museum

Die Korrektiewe Dienste Museum op die gronde van Pretoriase Sentrale Tronk in Potgieterstraat
Foto: dcs.gov.za

Die Sentrale Gevangenis in Potgieterstraat het ook ’n Korrektiewe Dienste-museum in dit wat oorspronklik in die vroeë 1900’s die bestuurder van gevangenisdienste se huis was. Die gebou is later as kantore gebruik en toe as ’n kroeg vir bewaarders. Dié museum is in 1992 deur Adriaan Vlok, destydse minister van korrektiewe dienste, geopen.

Die geskiedenis van Pretoria se korrektiewe dienste word in die museum uitgebeeld
Foto: dcs.gov.za

Goed wat deur gevangenes gemaak is en gekonfiskeer is, strek van daggapype en tatoeëernaalde tot nagemaakte sleutels, wapens en geld
Foto: dcs.gov.za

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die geskiedenis van Pretoria se korrektiewe dienste word in die museum uitgebeeld. Uitstallings sluit voorwerpe wat deur gevangenes gemaak is en gekonfiskeer is, in en strek van daggapype en tatoeëernaalde tot nagemaakte sleutels en geld, sowel as wapens.

Die museum is van Dinsdae tot Vrydae oop van 9 vm tot 3 nm. Skakel 012-314-1766 vir meer inligting.

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui